GONS-fees te Amsterdam
Riana Mouton, Krokkie en van die kinders wat die naweek terdee geniet het

Op Saterdag, 18 November, het die Jeugkommissie van die NG Kerk Amsterdam hul eerste GONS-fees vir die jeug aangebied en dit was ’n reusesukses.

Van omstreeks 11:00 die oggend, was die heerlikste eet- en drinkgoed te koop. Daar was verskeie speletjies vir die jongspan en teen 13:00 het die spanne afgeskop met ’n “Amazing Race”. Die deelnemers moes verskeie Bybelverse ontsyfer om by hul leidrade uit te kom. Riana Mouton en Krokkie die Krokodil het die gaste teen 15:00 vermaak, want die kinders kon nie meer langer wag nie.

Krokkie het hulle so baie geleer van Jesus en oor hul geloof! Daar is vir hulle geleer dat hulle, net soos ’n krokodil, altyd hul wapenrusting moet dra en dat hul al hul probleme na die lewende waters toe moet sleep. Hulle moet ook altyd glimlag soos ’n krokodil sodat elkeen se liggie daagliks helder kan skyn. Op Sondag, 19 November, het Riana en Krokkie weer ’n draai in die kerk gemaak waartydens daar pragtige Kersliedere gesing is.

Die res van die gemeente het ook die geleentheid gekry om vir Krokkie te ontmoet en te luister na al sy interessante staaltjies oor die Here. Dit was werklik ’n verrykende naweek vir elkeen wat dit bygewoon het en daar word reeds uitgesien na nog so ’n fees in die nuwe jaar. Baie dankie aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van die GONSfees in Amsterdam.

Dankie, aan die organiseerders asook elke gas wat dit ’n onvergeetlike naweek gemaak het. GONS staan vir God In Ons en ons moet dit elkeen daagliks onthou!