Plaaslike kunstenaar in top-16 van “Die Kontrak”

0
124

Kate-Merie Ferreira

Arnau Nolan (22) van Piet Retief is op Saterdag 21 Mei gekies om deel te wees van “Die Kontrak” – seisoen 2 se top-16, nadat hy die beoordelaars met sy engelstem betower het.

Arnau se avontuur het begin toe hy vroeër die jaar sy digitale inskrywing om aan die kompetisie deel te neem op sosiale media gedeel het. Hy moes kies uit die vier mentors en het besluit om aansoek te doen om in Tarryn Lamb se span te wees, aangesien dit voorkom of sy uniek-heid bo perfeksie verkies.

Hy het sy ukulele instrument gevat en ‘n weergawe van Gian Groen se “Vier Seisoene Kind” gesing en uit meer as 1 200 inskrywings het hy uitgestaan en is gekies vir Tarryn se span as deel van die top-26.

Die top-26 het slegs ‘n week kans gekry om saam met hulle mentors te werk om ‘n liedjie te kies en te oefen wat hulle op Saterdag 21 Mei voor ongeveer 6 000 mense by Weiveld in Pretoria, moes sing.

Arnau vertel dat dit ‘n baie stresvolle maar opwindende ervaring was en na-tuurlik ‘n groot eer. Toe hulle die top-16 op dieselfde aand aankondig en sy naam noem, het dit gevoel of hy droom. Arnau was geskok en kon nie glo dat ‘n kunstenaar van so ‘n klein dorpie dit so vêr kon maak nie.

Die uitdunne vir die top-8 sal binne die volgende twee maande gehou word maar vir tyd en wyl werk die top-16 saam met hulle mentors (Tarryn Lamb, Refentse Morake, Monique Steyn en Karlien van Jaarsveld) om voor te berei.

Arnau hoop om nog verder te gaan en sy familie en vriende van Piet Retief trots te maak. “Die Kontrak” – seisoen 2 sal vanaf Sondag 21 Augustus op eTV uitgesaai word. Volg gerus Arnau se storie op sosiale media deur Instagram (arnau_nolan), TikTok (broccolicat) of op Facebook (Arnau Nolan). Hy waardeer almal se ondersteuning!