Gemeenskap neem slaggatkwessie in eie hande

0
64

Jessica Burns

Die Vryheidsfront Plus en die gemeenskap steek hand in eie boesem en pak die stryd aan om die honderde slaggate in ons dorp te herstel.

 Op Maandag 2 Mei ‘Werkersdag’ het 20 individue twee ton teer gebruik om die gate op die hoek van Von Brandis- en Olivierstraat te herstel. Die lede het om 07:30 begin en ongeveer 16:30 klaargemaak. Vrywilligers het in spanne verdeel – sommiges het as verkeersbeamptes opgetree om die verkeersvloei te beheer, ander het pikke geswaai en stampers gestamp. Daar was mense in beheer van die masjinerie en nog vrywilligers was verantwoordelik vir die verversings op die dag.

Daar is behoorlike gereedskap gebruik vir die herstelwerk en het die individue dit baie professioneel behartig. Hulle is van mening dat dit beter is om kwaliteit herstelwerk te doen in plaas van kwantiteit. Dit is ‘n deurlopende projek en die lede glo dat die span sal groei en wil dit ‘n weeklikste aktiwiteit maak. Daar is ‘n WhatsApp groep gestig op Woensdag die 20ste April en daar is reeds 200 inwoners op die groep. Indien jy wil aansluit kontak gerus vir Heinz Weber: 079 510 8141/Nadine Kruger: 081 026 4483.

“Die paaie in Piet Retief is besig om in so ‘n mate te disintegreer dat dit op sommige plekke basies onbegaanbaar is. Ons almal voel magteloos terwyl die omstandighede van jaar tot jaar versleg. Dan vra mens: Hoe beweeg ons van ‘n toestand van magteloosheid na oorwinning toe? Die antwoord lê daarin dat ons die middelman moet uitskakel en dit self doen. Dit is hoekom ek die Piet Retief Slaggate groep gestig het. Die doel van die groep is om dit vir ons almal moontlik te maak om saam as gemeenskap die slaggate te takel. As u direkte insae wil hê en ‘n direkte verskil wil maak dan moedig ek u aan – Kom raak betrokke, want ons vat dit nou in ons eie hande.” – Heinz Weber

Die groep wil baie dankie se aan almal wat gratis gereedskap voorsien het, die verversings op die dag geborg en die voorbereiding van die kos behartig het.