Piet Retief-VLU

0
468

Maartmaand vat ons almal die pad, uit die dorp uit na die pragtige tuin van Suzette Joubert.  Feestelike gedekte tafels verwelkom ons by haar swierige plek.

Wilana Claassen open uit Psalms en herinner almal dat God by jou is, al gebeur wat ook al met jou.  Jy hoef nie vir enige situasie of probleem bang te wees nie, want Hy is altyd by jou, deur die goeie maar veral ook in slegte tye.

Sonja du Toit heet die groot groep dames welkom.  Ons sê spesiaal geluk aan dames wat lidmaatskaptoekennings ontvang:  5 Jaar toekennings aan Cheryl Herrington, Santie du Toit en Suzette Joubert.  ‘n 20 jaar toekenning gaan aan Helena Joubert.  Baie geluk met die prestasie.

Cecile van Zyl kom vertel ons meer van kruie, meer spesifiek hoe om ‘n suurlemoen geur, sonder die suur smaak, in kos te verkry.  Sitroengras (Lemon Grass) en Suurlemoen-kruisement (Lemon Balm) kan hiervoor gebruik word en het ook verskeie ander huishoudelike -, kosmetiese – en medisinale voordele.  Sitroengras was voorheen skaars en is selde gebruik, maar soos baie ander kruie wat voorheem onbekend was, is dit besig om vining baie populêr te raak.  Dit is inheems aan die trope en groei tot ‘n hoogte van 1,8 m.  Dit het baie lang dun blare wat lekker ruik en groenerige rooi blomme wat in trossies verskyn.  Soos die naam aandui, het Sitroengras ‘n suurlemoenagtige geur en aroma en is dit ‘n nuttige kombuis- en medisinale kruid.  Suurlemoenkruisement is ‘n aantreklike lid van die kruisementfamilie, en is ‘n bate in die tuin omdat dit so baie mediese – en kombuisgebruike het.  Die kruid is regoor die wêreld gewild en staan algemeen as “Melissa” bekend.  Die blare word gebruik vir ‘n geurige olie wat in die parfuumindustrie gebruik word.  Die plant staan ook as “Lemon Mint” bekend.  Dit het die soetste geur van al die kruie.  Dit is inheems aan die bergagtige streke van suidelike Europa en is deur die Romeine na Brittanje gebring.  Dit was heilig in die tempel van die godin Diana en is sowat 2000 jaar gelede deur die antieke Grieke vir medisinale doeleindes gebruik.  Die Switserse dokter, Paracelsus, het dit die “Elixir of Life” genoem.  Dit is nog altyd met die verligting van weemoed geassosieer, en word deesdae in aromaterapie teen depressie gebruik.

‘n Trooskombers word aan Wilana Claassen oorhandig om die tak se omgee te demonstreer na die onlangse plaasaanval wat by hulle plaasgevind het.

Na ons deur Suzette getrakteer is met heerlike wafels en roomys, drink ons lekker koffie.  Sonja du Toit sluit af met “A beautiful day begins with a beautiful smile”.

Vir meer inligting of om aan te sluit kontak Sonja by 082 823 7626.