Willem Grobler oorlede

0
105

Willem Jakobus Grobler is gebore op 17 Mei 1974 in die Piet Retief Hospitaal en is op Donderdag 30 September 2021 oorlede.

Hy het by Laerskool Wittenberg skoolgegaan en uitgeblink in rugby, krieket en langafstandhardloop. In 1992 het hy by Hoërskool Piet Retief gematrikuleer waar hy ook ’n puik rugbyspeler was. Hy het op die losskakel-posisie gespeel. 

In 1993 het hy by Technikon Pretoria ingeskryf om Rekenaarstudies te studeer maar het in dieselfde jaar van plan verander en besluit om vir sy pa, Hans Grobler, in die bosboubedryf te werk.

Willem het in 2001 sy eerste besigheid, Assegaai Bande, begin wat tot vandag toe nog ’n groot deel van die gemeenskap is. Hy het aangegaan om verskeie ander sakeondernemings te stig.

Willem was bekend vir sy hulpvaardigheid en passie vir liefdadigheid. Hy was ’n vrygewige man en waar hy nood en behoefte raakgesien het, het hy probeer om hulp te verleen. Hy het ’n groot rol in die gemeenskap gespeel en was betrokke by buurtwaggroepe om so ’n verskil te probeer maak.

Hy laat sy twee dogters, Tanya en Jacoline, sy kleinkind Marnelle, sy broer Hansie, suster Doreen en sy lewensmaat, Anna agter.

Jou plek is leeg Willem.