Piet Retief VLU

0
85

Op ‘n heerlike Wintersmiddag in Augustus ontmoet ons mekaar onder die lowergroen bome in Sonja du Toit se pragtige tuin.  Stoele, tafels en sambrele staan reg om ons welkom te heet, met die mooiste bosse Clivia blomme om die tafels te versier.

  Ons voel dadelik tuis en laat ons meevoer vir ‘n leersame middag vol pret en plesier.

Wilana Claassen open met Jesaja 43:1, waar ons verseker word dat ons aan God behoort en Sy kinders is.  Iets wat aan jou behoort en wat vir jou van waarde is word tog mooi opgepas en versorg.  So is God die Een wat na ons kyk.  In Jeremia 33 lees ons dat hy hom ook in ‘n inperking bevind het, net soos ons nou.  Daar het God vir Jeremia verseker dat Hy hom gesond sal maak.  Ons hoor dat ons weer blydskap en vreugde sal beleef en weer huweliksfeeste sal kan hou.  Ons moet egter dankoffers na die huis van die Here neem, dan sal alles weer soos vroeër wees.  Hierdie swaarkry waarin ons ons nou bevind, is net tydelik.

Ons verneem eers na almal se welstand en is bly oor kleinkinders wat op pad is, kinders wat gaan trou en selfs ‘n kleinkind wat haar graad cum laude verwerf het.

Ons is baie trots op ons twee raakvatvroue, Sonja du Toit en Helena Joubert, wat gaan deelneem aan die Mpumalanga VLU se Oja! Soja! – kompetisie.  Jy moes ‘n gereg inskryf waarvan die grootste bestanddeel soja moet wees.  Hulle is genooi na die finaal waar die wenners aangekondig gaan word in Middelburg.  Ons monde water as ons hoor wat alles in die beplanning is, van mosselsop, sojakoekies, sojatruffels en gerookte hoender- en soja-quiche.  Ons wens hulle alles van die beste toe vir die groot bak!

Ons leer meer oor Mpumalange se Persoonlikheid van die Jaar, Dawie Roodt.  Dawie is ’n bekende Suid-Afrikaanse ekonoom met sowat 30 jaar se ervaring en is al vir 15 jaar ‘n ankeraanbieder van Ontbytsake.  Hy volg internasionale en plaaslike politieke ontwikkelinge en ontleed die ekonomiese gevolge daarvan.  Hy is ook ‘n kenner van die ekonomiese gevolge wat kripto-bates kan inhou.  Dawie is ook aktief betrokke by die bestuur van kliënte se bateportefeuljes.  Die 60-jarige Dawie is getroud en het 4 kinders.  Hy neem aktief deel aan ‘n verskeidenheid sportsoorte en het selfs al ‘n Comradesmarathon voltooi.  Hy spog inderdaad met ‘n indrukwekkende CV.

Na heerlike melkkos met kaneelsuiker en ‘n koppie boeretroos spring ons aan die werk.  Sonja deel oorskietpapier uit en ons begin kaartjies maak.  Party meer kreatief as ander, maar almal geniet dit terdeë en ons is trots op die handewerk wat ons verrig het.

Ons sluit af met:  “Never regret a day in your life.  Good days give you happiness, bad days give you experience, worst days give you lessons and best days give you memories.”  Dié dag was beslis een van die dae wat met mooi herinneringe gepaardgegaan het.

Vir meer inligting of om aan te sluit, kontak Sonja du Toit by 082 823 7626.