Op ’n “Track–Tor” vir liefdadigheid

0
164
Track-Tor-vir-liefdadigheid

Op Sondag 2 Mei om ongeveer 09:00 het Dr. Andre Hatting van Pediatric Care Africa ’n 2 500 km roete deur vyf provinsies op ’n trekker afgeskop om fondse vir dié liefdadigheidsorganisasie in te samel.

As gevolg van Covid-19, kan Pediatric Care Africa nie hulle gewone fondsinsamelings, soos gholfdae, gala-etes en veilings hou nie en moes daar aan ’n nuwe, kreatiewe manier gedink word om die mense wat by hulle aanklop vir hulp, by te staan. Die pandemie het ook veroorsaak dat hulle dienste baie meer gebruik word.

In 2020 het die organisasie aan ongeveer 320 kinders gratis doktersbesoeke verskaf maar vanaf Januarie – April 2021, het hulle reeds meer as 300 kinders gehelp. Elke konsultasie kos hulle ongeveer R1 400-00 en sluit ’n ondersoek, bloedtoetse en selfs x-strale in, sou dit nodig wees. Pediatric Care Africa ontvang geen toelae vanaf die regering nie en maak alleenlik op privaat donasies staat.

Track-Tor-vir-liefdadigheidDr. Hatting vertel dat hy ongeveer 10 ure ’n dag met die trekker gery het teen 30km/h. Die beste deel van sy avontuur was beslis die mense wat hy ontmoet het. Hy sê dat in elke dorp waar hy deurgery het, mense hom genader het om meer uit te vind oor wat hy besig was om te doen, hulle was vriendelik en gasvry en wou help net waar hulle kon.

Die keer toe hy deur ’n klein dorpie in die Vrystaat gery het, het ’n bejaarde dame hom voorgekeer en vir hom gevra of hy al geëet het. Hy het gesê hy het, maar sy het daarop aangedring om vir hom ’n toebroodjie te gee vir die pad. Hy sê dat haar goedhartigheid vir hom baie bete-ken het.

Op Donderdag 13 Mei het Dr. Hatting in Piet Retief aangekom en die aand hier spandeer. Sy trekker en sleepwa het baie aandag getrek, veral omdat dit vol speelgoed beertjies was. Hy het verduidelik dat die beertjies se naam Olaf is en dat dit Pediatric Care Africa se gelukbringer is. Kinders wat op hulle senuwees is voor ’n konsultasie of wat ’n operasie ontvang kry ’n Olaf om hulle meer op hul gemak te laat voel.

Sommige besigheidseienaars in die dorp het dit goedgedink om die projek te ondersteun en altesaam is daar meer as R20 000-00 ingesamel. Daar is ook aan hom diesel en olie geskenk. Baie dankie aan elkeen wat iets bygedra het.

Op Saterdag 15 Mei het sy avontuur tot ’n einde gekom weer in Witrivier, waar hy begin het.

Dr. Hatting vra dat enige dokter in Piet Retief wat bereid is om ’n kind gratis te ondersoek, hetsy ’n algemene praktisyn, ’n spesialis of ’n tandarts, asseblief op hulle webblad www.pediatriccareafrica.org sal registreer. Dokters kan kies hoeveel keer hulle bereid is om te help, selfs een of twee gratis konsultasies ’n jaar kan ’n groot verskil maak.

As jy ’n donasie aan die liefdadigheidsorganisasie wil maak, kan jy ook hulle kantore (076 229 5663) skakel.