VLU-Saligna rangskik blomme

0
32

Op Woensdag 17 Maart het die dames van die VLU-Salignatak bymekaargekom om oor een van hulle gunstelingskrywers te gesels en blomme te rangskik.

Jaco Jacobs het al meer as 170 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes geskryf. Hy is as skrywer van die jaar aangewys en dit was vir die lede baie interessant om meer oor hom en sy boeke te wete te kom.

Elke dame moes ’n blompot, asook blomme vanuit haar eie tuin na die vergadering toe bring om blommerangskikkings te maak. Elke lid moes tussen 1-3 soorte blomme gebruik. Dit was voorwaar baie pret! Toe die pragtige rangskikkings voltooi is, het almal mekaar se skeppings beoordeel en ’n punt uit tien uit gegee. Die punte is opgetel en die drie wenners is gekies.

Rika Wolmarans het almal se asems weggeslaan met haar pragtige poging en dus die kompetisie gewen. Linda Nhlabathi het tweede gekom en Annalize Delport was derde.

Die groep het ook twee nuwe lede, Lynette Visagie en Susan Gerber verwelkom en is opgewonde om hulle deel te maak van al die verrigtinge.

Op Saterdag 20 Maart het die dames weer bymekaargekom vir die Tambuki Streek VLU se jaarlikse konferensie wat by die Quarry gehou is.

Hantie Weber was die gasspreker en het waardevolle advies gedeel:  “Koester die verlede, leef die hede en omhels die toekoms.”  Michael Blignaut en Jenny van Zyl het vir die vermaak van die dag gesorg. Hulle optrede was so roerend dat die dames sommer spontaan begin dans het.

Met die prysuitdeling was die Saligna-tak verbaas en verheug toe hulle as die streekwenners aangekondig is. Hulle het ook die konferensie-trofee huis toe geneem en individueel het hulle uitstekend gevaar en baie toekennings gewen.

Baie geluk aan al die wenners.

Vir meer inligting oor VLU-Saligna of om betrokke te raak by die groep, kontak gerus vir Elbie van der Schyff op 082 776 3118.