VLU vergader

0
208

Op 20 Februarie het die VLU Kaleidoskoop-tak (Vroue Landbou Unie) bymekaar gekom by Greendoor.

Tydens die vergadering het die dames die sanger Henry-John Williams bespreek. Hulle het daarna gekookte eiervrug-en-soetrissie-blatjang, Caponata asook piekeluie vir slaai voorberei en saam geniet.

Probeer gerus een van die heerlike resepte wat hulle bespreek en gemaak het.

Caponata: (Dit smaak heerlik saam met geroosterde biefskywe, hoender of hamburgers).

Bestanddele:

  • 1 eiervrug (ongeveer 700 g)
  • 325 ml olyfolie
  • 2 soetrissies
  • 1 ui
  • 375 ml fyngekapte slaaiseldery
  • 625 ml ingemaakte heel tamaties
  • 10 ontpitte groen olywe
  • 75 ml asyn
  • 30 ml ingemaakte kappertjiesaad
  • 30 ml wit suiker
  • 30 ml sout
  • 15 ml tamatiepasta
  • 7 ml grof gemaalde swartpeper
  • 30 ml fyngekapte pietersielie
  • 30 ml dennepitte

Metode:

Skil die eiervrug en sny dit in klein blokkies op. Soteer dit 10 minute in 250 ml van die olie. Skep die eiervrug met ‘n gleuflepel uit en dreineer op papierhanddoek.

Vierendeel en ontpit die soetrissies en sny in repies. Skil en snipper die ui. Voeg 60 ml olie by dié waarin die eiervrug gesoteer is en soteer die soetrissies, ui en seldery daarin tot sag. Dreineer die tamaties en sny dit in groterige stukke op. Sny die olywe in skyfies en voeg dit saam met die tamaties, eiervrug, asyn, kappertjiesaad, suiker, sout, tamatiepasta, peper en die helfte van die pie-                 tersielie by die soetrissiemengsel. Sit die deksel op en laat die mengsel ongeveer 20 minute prut.

Soteer die dennepitte in die oorblywende olie tot begin verkleur. Roer dit saam met die res van die pietersielie by die eiervrugmengsel in. Skep die caponata in gesteriliseerde, droë inmaakflessies en bewaar dit tot 3 weke in die koelkas.