Piet Retief VLU-nuus

0
73
Isabeau Kotzé
Isabeau Kotzé

Na ‘n jaar wat ons glad nie kon vergader het nie, kon ons dit nie meer hou nie en het mekaar in Februarie by die Gholfklub ontmoet vir ‘n heerlike middag.

Wilana Claassen open deur te verduidelik wat dit beteken om gedoop te wees en hoekom Jesus gedoop moes word.  Jou sonde is in die water afgespoel en Jesus het dit op Hom geneem.  Hy het dus werklik vir jou sondes gesterf.  As gebed speel ons ‘n lied van Henry-John Williams, ons Sanger van die Jaar.  Hierdie kreatiewe Nelspruiter blink uit op verskeie terreine:  interieure ontwerp, liedjieskrywer, pianis, skakelteksskrywer vir musiekvertonings, regisseur en dan sy pragtige sangstem maak hom ‘n kunstenaar met vele talente.

Ons sprankelende Voorsitster, Sonja du Toit, heet almal welkom.  Ons deel in mekaar se swaar oor siekte en verlies en spog saam oor verlowings, kleinkinders en troues.

Een van ons Bome van die Jaar is die eg Suid-Afrikaanse spekboom en elke lid ontvang een om te gaan plant.  Dit dien sommer as geskenke vir ons verjaarsdae.  Die spekboom is waterwys en verg baie min onderhoud.  Dis maklik om te kweek en is droogtebestand.  Wat die spekboom buitengewoon maak is dat dit twee metodes van fotosintese volg, afhangende of dit Winter of Somer is.  Wat nog besonders is, is dat die boom nie kan brand nie.

Ons Projek van die Jaar is “Wat leer ek my kind/kleinkind?”  Isabeau Kotzé, ‘n welbe-kende inwoner van Piet Retief en orator van formaat kom spreek ons toe oor hierdie tema.  Geluk is belangriker as prestasie en jy het altyd keuses.  Aan die einde van die dag is alles egter net genade onbeskryflik groot.

Na heerlike koek en tee sluit ons af met die volgende woorde:  “If the plan doesn’t work, change the plan, but never the goal”.

Vir meer inligting of om aan te sluit, skakel Sonja du Toit by 082 823 7626.