Ons gaan jou mis

0
20

“Jesus luister na ons wanhoop, vertroos ons en heel die wonde van ons stukkende harte met helende salf van Sy Liefde. Ons hoef net te luister en ons sal hoor hoe Hy vir ons sê: ‘Ek is hier, my liefste liefste kind.’” – Onbekende skrywer

 Matthys Johannes Marais (Thys) is gebore in 1958 op Louis Trichardt en oorlede op 29 Januarie 2021 aan Covid-19. Thys was vir 16 jaar woonagtig in Piet Retief. Hy het sy eie makelaarbesigheid gehad en vir die laaste 7 jaar by TWK as makelaar gewerk. Thys laat sy vrou Doris, 4 dogters, 4 stiefkinders en 11 kleinkinders agter.

“Daar was nie ‘n provinsie in ons land waar daar nie iemand geweet het wie Thys Marais was nie, want hy het sy merk oral gelos. Ons harte huil vir ons man, pa, tweede pa en oupa. Hy het altyd gesê hy is so “ryk” met 8 kinders. Hy was ‘n wonderlike man en ‘n spesiale pa en oupa vir elk van sy kinders en kleinkinders. Hy het altyd tyd vir ‘n grappie gehad met ’n positiewe gesindheid en ‘n lus vir die lewe. Dankie Liewe Vader dat U hom vir ons geleen het, dit was ‘n groot voorreg. Ons gaan hom mis en die leemte wat hy los is groot!” – Boodskap van die familie

Die familie wil ook graag dankie sê vir almal se gebede, boodskappe, oproepe en ook aan die individue wat ‘n maaltyd gebring het in hierdie moeilike tyd.