Vrystaat boere verloor alles

0
31
Hulp vir boere in die Vrystaat
Dankie aan elke persoon wat ’n bydra gelewer het

Op Sondag 18 Oktober het  sommige Vrystaat boere amper alles wat hulle besit verloor. ’n Groep betogers  het bande gebrand op die R708-pad tussen Hertzogville en Christiana. Die wind het blykbaar opgesteek en die omliggende velde is so aan die brand gesteek en die gevolg was dat 100 000 hektaar se kosbare land afgebrand het.

Sommige Vrystaat boere (van Hertzogville, Boshof, Bultfontein en Hoopstad) het al hulle vee en besittings in die verwoestende brande verloor. Sommige boere het ook erge brandwonde opgedoen terwyl hulle desperaat probeer het om die vlamme te blus.

Na afloop van hierdie tragiese gebeurtenis het verskeie organisasies, besighede en gemeenskappe besluit om in te tree en hulp te offer aan die Vrystaat boere en hul gesinne wat byna al hulle aardse besittings verloor het.

Die gemeenskap van Piet Retief het ook hande gevat om hulle medemens te help en op Vrydag 30 Oktober is ’n trokvrag broodnodige produkte na die Vrystaat gestuur. Die trok is op Donderdag gelaai en die produkte het verskeie nie-bederfbare kosprodukte, honde- en katkos, badkamerprodukte en selfs ’n paar lekkernye ingesluit. Dit gaan voorwaar ’n groot verskil maak vir die boere in dié tyd van beproewing.

Baie dankie aan elke persoon wat ’n bydra gemaak het. Dankie aan die persone wat tyd afgestaan het om hulp te verleen met die laai van die trok. Julle is sterre!

Filippense 2: 3-4 “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elk-een aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”