Hoërskool Piet Retief groet Jan Venter

0
125
Hoërskool Piet Retief groet Jan Venter
Hoërskool Piet Retief groet Jan Venter

Mnr. Jan Venter het op 1 Januarie 1985 by Hoërskool Piet Retief aangemeld as onderwyser en tree na 35 jaar af om ‘n rustiger lewe saam met sy vrou, Hettie, te geniet. 

Jan het baie portefeuljes by die skool beklee, maar die een waarvoor hy altyd onthou sal word, is sy spitsvondige aanbieding van menige prysuitdelings.  Jan het nie sommer ‘n kind se naam verkeerd uitgespreek  nie.  Hy was ook dikwels seremoniemeester by revues en kultuuraktiwiteite.

Pouses kon Jan uitgeken word aan sy kenmerkende fluit en sy spesiale filterkoffie wat hy graag gedeel het.  Staaltjies uit die verlede is altyd so deur Jan vertel dat mens aan sy lippe gehang het, en  wanneer hy geopen het in die personeelkamer, het niemand onaangeraak gevoel nie.

Lees van Siphokazi Methetha, Hoërskool Piet Retief se “Braveheart”

Van fotostaatmasjiene en rekenaars kon niemand Jan iets vertel nie.  Hy het jare lank die kopieermasjiene se instandhouding gedoen, en as jy iemand benoud na Jan hoor roep het, was dit gewoonlik om ‘n probleem te kom uitsorteer.

Vir jare het Jan eiehandig die puntelyste van elke klas en vak in die skool op die rekenaars ingelees en rapporte gedruk.  Dis byna 1 000 lyste per jaar!

Die voertuie-vloot van die skool is foutloos deur Jan geadministreer.

Fotografie is een van sy stokperdjies en met die sport en individuele foto’s was Jan die man agter die kamera, asook die organiseerder.  Pragtige foto’s is deur hom en Hettie geneem tydens die Winter- en Valentynsbal.

Tydens die atletiekseisoen was Jan die atletiekorganiseerders se regterhand met die opstel van die atletiekprogram, inlees van spanlyste en op-die-dag insleutelwerk.

Piet Retief se eie “masterchef” tree nou af en die personeel gaan nog baie terugverlang  na sy lekker kos.  Jan kan  konfyt kook, vrugte en groente inlê, beskuit bak en potjie bou soos min mense.  Tydens spanbounaweke het hy ure lank gestaan en kosmaak.

Hy was een van die deeglikste mense wat nog ooit by Hoërskool Piet Retief gewerk het, as hy  iets gedoen het, kon jy weet dit is honderd persent reg.  Hy is ‘n perfeksionis op die gebied van organisasie en administrasie.  Hy is iemand wat die reguit pad stap en geen moordkuil van sy hart maak nie.  Sy oudkollegas beskryf hom as een van die opregste vriende, iemand met ‘n klein hartjie en groot persoonlikheid.

Jan en Hettie is onafskeidbaar en die liefde wat hy vir sy vrou en kinders het is iets wat mens sommer in sy stem kon hoor as hy van hulle praat.  Ons wens hom en Hettie vele rustige jare toe en hoop hy weet ons gaan hom baie mis!