Rinkel-Krinkel Kleuterskool vier Jesus se geboorte

Op Vrydag, 15 November het die kleuters van Rinkel-Krinkel Kleuterskool Jesus se geboorte gevier tydens hulle jaarlikse konsert.

Die Rinkel-Krinkel Kleuterskool konsert het die storie van Josef en Maria vertel en hoe hulle lank en ver moes reis om by die stal uit te kom waar Jesus gebore is. Die wyse manne het ook ’n verskyning gemaak om hulle geskenke van goud, wierook en mirre aan Jesus te gee en die herders met hulle skape was ook daar om lof te bring.

Die Rinkel-Krinkel Kleuterskool kinders het pragtig gelyk in hulle tuisgemaakte uitrustings en die dekor was van so ’n aard dat ’n mens gevoel het dat jy werklik in die stal was waar Jesus gebore is. Die hoofkarakters het goed voorberei en het hulle woorde uitstekend geken. Elke klas het die geleentheid gekry om ’n dansie op te voer en het dit vreeslik geniet om op die verhoog voor hulle ouers en grootouers op te tree.

Hierdie jaar se konsert was ekstra spesiaal. ’n Span van KykNET het dié skooldag by Rinkel-Krinkel spandeer en opnames van die kleuters in hul klasse gemaak. Elke klas het ’n Kersfees-tema kunsprojek gemaak en sommige van die kleuters het vir die KykNET-span vertel wat hulle graag vir Kersfees wil hê en wat hulle wil word as hulle eendag groot is.

KykNET het ook ’n opname van die konsert gemaak wat dan later op  TV sal verskyn.

Baie dankie aan elke onderwyser en ouer wat so baie moeite gedoen het om van hierdie konsert ’n meesterstuk te maak.