Haelstorm rig groot skade aan

Gedurende Vrydagaand, 22 November het ‘n verwoestende haelstorm dele van Piet Retief getref en groot skade aan die infrastruktuur van sommige besighede aangerig.

Haelstorm rig groot skade aanDie haelstorm het ’n wit laken oor grasperke gevorm en dit het omtrent gelyk asof Piet Retief sneeu gekry het. Die storm het gepaardgegaan met blitse en swaar reën. Weeping Willow het die ergste van hierdie storm afgekom. Hulle gebou se plafon het op vier plekke ingegee, hulle plante is verwoes en sommige van hulle diere is doodgeslaan deur die hael.

Die eienaars het vasgestel dat die skade wat deur die haelstorm veroorsaak is ongeveer R500 000 beloop en dit gaan hulle waarskynlik nog ’n tydjie vat om hulle spogwinkel en perseel in sy volle glorie te herstel.

Dit is van uiterste belang vir besigheid- en huiseienaars om vroegtydig versekering op hulle geboue te hê, veral nou met die seisoen van groot storms. Dit gaan die las op jou skouers baie ligter maak as jy enige skade sou ly. Wees op die uitkyk vir enige stormwaarskuwings gedurende die somerseisoen en neem die nodige stappe om jou veiligheid te verseker.