Touch of Class Music Band

Op Saterdagaand het Touch of Class, ook as deel van die kerk se projek, in ’n tent by die Piet Retief Rugbyklub opgetree.

Saterdag, 26 Oktober was ’n bedrywige dag vir die Afrikaanse Evangelies-Lutherse Kerk gemeente van Piet Retief.

Hulle het die dag afgeskop met ’n basaar by Wittenberg Skool en alhoewel dit gereën het, het hulle steeds goeie ondersteuning van die gemeenskap af ontvang. Daar was heerlike kos en tuisgebakte goedere te koop.

Om 12:00 het die vleisverkope afgeskop en dit was puik! Daar was natuurlik ook ’n springkasteel vir die kinders om te geniet, sommige kleingoed het te heerlik in die reën baljaar!

Touch of Class besoek Piet Retief
As dit reën word die basaar net onder ’n afdak gehou!

Hulle vertoning het om ongeveer 18:15 afgeskop met Neil Diamond se Sweet Caroline. Die hoofsanger van dié sanggroep, Ruhan du Toit, se sin vir humor het die gehoor lekker laat skaterlag, terwyl sy pragtige stem hulle betower het.

Hy het bekende liedjies soos Hotel California, Die Land en Amanda van Don Williams gesing. Deon van der Merwe, die groep se kitaarspeler, het ook ’n beurt gekry om met sy voortreflike kitaarspel te spog. Hy het selfs ’n boereliedjie met ’n Spaanse kitaar gespeel. Die gehoor het verstom gesit!

Wat hierdie optrede so spesiaal gemaak het, is dat dit Ruhan se laaste vertoning vir Touch of Class was. Nege jaar gelede het hy sy heel eerste optrede saam met die groep ook in Piet Retief gehou.

Gedurende die aand het drie mense ook wonderlike pryse gewen. Baie geluk aan:

  • Louis Meyer wen vier nagte se verblyf vir agt mense in Alldays. Hierdie prys sluit ook in ’n rooibok, ’n vark en ’n blouwildebees of sebra in. Hierdie paket het ’n pryswaarde van R17 000-00.
  • Anette Hiestermann wen drie nagte se verblyf vir ses mense in Winkelspruit, met ’n pryswaarde van R7 500-00.
  • Fanie Momberg het weggestap met ’n Piet Retief jag-ekskursie wat insluit een swartwildebees en een blesbok ter waarde van R7 000-00.

Die vertoning was uitsonderlik goed en ’n mens kon sien dat Touch of Class passievol is oor  hulle musiek.

Baie dankie aan elkeen wat hierdie dag deur skenkings en opofferings moontlik gemaak het. Julle bydrae word opreg waardeer. Baie sterkte aan Ruhan met sy toekomstige optredes. Ons glo dat jy ’n reusesukses van jou sololoopbaan ook sal maak.