Bosbou Gholfdag Piet Retief

Op Saterdag, 2 November het die jaarlikse Bosbou Gholfdag by die Piet Retief Buite-klub plaasgevind.

76 gholfliefhebbers, wat in 19 spanne opgedeel was, het deelgeneem aan die Bosbou Gholfdag wat ten bate van verskeie liefdadigheidsorganisasies in ons omgewing gehou is. Dit was ’n gesellige geleentheid en elke speler het goeie sportmanskap getoon.

Die uitslae van die dag was soos volg:

  1. Steenekamp Vervoer 1ste span het 76 punte aangeteken en is as die algehele wenners van die dag aangewys.
  2. Mpact 1 teken 72 punte aan en kom tweede op ’n uittel.
  3. Fossils teken ook 72 punte aan en kom derde.

Nearest to the pin-kompetisie:

  • Johan Albasini wen ’n prys vir nearest to the pin op no. 4
  • J.P du Toit sr. wen ’n prys vir nearest to the pin op no. 6

Longest drive-kompetisie:

  • Joe Cronje wen die longest drive op no. 2 vir die mans
  • Carol Gouws wen die longest drive op no. 2 vir die dames

Elke gholfspan, van die wat gewen het tot die wat laaste gekom het, het pryse ontvang wat deur plaaslike besighede geborg is. Die organiseerders het ook ’n ‘Rugby Raai’-kompetisie gehou waarvan die wenner Gorden Foster was (hy het ’n telling van 29-11 in die Springbokke se guns geraai).

Hy het ‘n skaap ontvang vir sy akkurate voorspelling van hoe die Rugby Wêreldbeker gaan afloop. Carla Kruger het ’n braaier gewen nadat haar naam in ’n gelukstrekking gewen het.

Die komediant, Doringdraad, het al van vroeg af gesorg vir lekker lag tydens die prysuitdeling en die gehoor het geskaterlag vir sy manewales.

Gholf was nie die enigste hoogtepunt van die dag nie, die spelers het ook almal saam die Springbokke se wedstryd teen Engeland gekyk en behoorlik feesgevier toe die Springbokke wen.

Daar was ook Springbok en Engeland truie in ’n raam opgeveil tydens die gholfdag wat deur verskeie besighede geborg is. Persone wat belanggestel het, kon dan ’n bedrag geld neersit om hulle name op ’n naamplaatjie op die raam te sit. R100 000 is ingesamel deur middel van  hierdie projek. Die truie in die raam sal by die Piet Retief Buiteklub gehou word.

Tydens vanjaar se Bosbou Rolbal en – Gholfdae is daar altesaam R497 000 ingesamel vir liefdadigheid. ’n Besonderse groot bedrag!

Baie dankie aan die organiseerders, asook al die borge en spelers wat tot die groot sukses van hierdie dag bygedra het.