Bome (onnodig?) afgekap

Op Vrydag, 8 November het Piet Retief ’n stukkie van sy geskiedenis verloor toe daar blykbaar deur ’n plaaslike inwoner besluit is om die oudste inheemse boom in die dorp te laat afkap.

Verskeie mense is onder die indruk dat dit die doen en late van munisipale werkers was, maar MLM hou vol dat hulle geen kennis gedra het dat die boom afgekap sou word nie.

Hierdie boom, was ’n Gewone Wildevlier en op 12 Augustus, 1988 het die voormalige burgemeester, JG Roux, dit erken as die oudste inheemse boom in ons area en ’n spesiale plaatjie is aan die boom aangebring.

Saam met die Wildevlier, is nog twee ander bome ook afgekap. Volgens die munisipaliteit was dit ’n onwettige aksie gewees van die persoon se kant af en verdere stappe sal beslis teen hom geneem word.

Daardie boom en sy geskiedenis is nou verlore en sal net in die gedagtes van die wat daaronder baljaar en sy skadu geniet het, voortleef.

Ons hoor graag die weergawe van die persoon wat die bome afgekap het.