Boks-vir-’n-Boervrou projek baie suksesvol

Die droogte wat die Kaapse boere teister raak nie net die mans nie, maar ook hul vrouens. Dit is hoekom ’n onbekende engel besluit het om na die boervroue wat deur die droogte beïnvloed word uit te reik en die Boks-vir-’n-Boervrou projek te begin.

Hierdie Boks-vir-’n-Boervrou projek behels dat vrywilligers ’n skoen- of wynboks vul met items spesiaal vir ’n boervrou. Eetgoed, wasmiddels, toiletware, ’n tydskrif of selfs ’n smaaklike koffie. Die bokse moes met koerantpapier toegedraai word en dan met ’n mooi lint versier word.

Charmaine Janssens van Piet Retief het te hore gekom van hierdie Boks-vir-’n-Boervrou projek toe haar seun, wat in Newcastle skoolgaan, se onderwyser vir haar ’n boodskap aanstuur om dit te verduidelik. Sy het dadelik besluit om betrokke te raak en ’n paar van haar vriendinne genader en hulle ook betrek by hierdie blink-idee projek.

Die woord oor dié projek het soos ’n veldbrand versprei en die gemeenskap van Piet Retief het altesaam 216 bokse opgemaak wat na die droogte geteisterde gebiede geneem sal word. Charmaine het weekliks van die voltooide bokse na Newcastle geneem. Regoor die land is daar ongeveer 6 000 bokse ingesamel wat uitgedeel sal word.

Hierdie briljante inisiatief trek aan die hartsnare en dit gaan beslis ’n verskil in die lewens van baie boervroue maak.

Baie dankie aan elke Piet Retiewer wat dit in hulle harte goed gevind het om deel te wees van hierdie spesiale projek.