Ongeluksverslag

Die volgende inligting is deur mnr. Anton Nortje, hoof van die Mkhondo Nooddienste verskaf. Vir meer besonderhede, skakel hom gerus op 079 872 8989.

Op Donderdag, 3 Oktober was twee voertuie in ’n ongeluk op die Ermelopad betrokke. Die bestuurder van ’n wit Nissan bakkie het langs die pad gestaan en toe ‘n U-draai gemaak om terug te keer na die pad. Die bestuurder van ’n blou Corsa bakkie het teen sy voertuig gebots. Een persoon is op die toneel oorlede en nog ’n persoon is op pad hospitaal toe dood. Ons innige meegevoel met beide persone se families.

Op Vrydag, 4 Oktober op die Pongolapad was drie voertuie in ’n botsing betrokke. Die bestuurder van ’n grys Nissan bakkie het ’n wit Toyota bakkie gesleep. Die bestuurder van die Nissan het toe beheer verloor en teen die agterkant van ’n trok vasgery. Geen beserings is aangemeld nie.


Die volgende twee ongelukke het op Saterdag, 5 Oktober plaasgevind:

Om ongeveer 20:20, op die Pongolapad het die bestuurder van ’n Toyota bussie in beeste wat in die pad geloop het, vasgery. Geen beserings is aangemeld nie.

Op die Ermelopad, om ongeveer 21:45, het ’n motorfietsryer die Amsterdam T-aansluiting misgery en is toe in die veld in. Die man het ernstige bese-rings opgedoen en is na die hospitaal afgevoer.

Op Sondag, 6 Oktober om ongeveer 01:55, is vier mense lig beseer op die Pongolapad toe die bestuurder van ’n voertuig beheer oor sy motor verloor en gevolglik in die versperring langs die pad vasgery het.