Laeveld Jagters Vereniging

Op 28 September vanjaar het die lede van die Laeveld Jagters Vereniging Piet Retief tak hulle camo’s verruil vir netjiese uitrustings om vanjaar se prestasies te vier met ‘n spoggerige funksie en prysuitdeling.

Vanjaar se Laeveld Jagters Vereniging tema was dennebolle en takbokhorings, en die dames van die komitee het geen kreatiwiteit gespaar met die onthaal se dekor nie. Saam met die heerlike vuur buite, wat gesorg het vir ‘n gesellige atmosfeer, is elke gas verwelkom met ‘n sjerrie om die litte warm te hou vir die aand se verrigtinge.

Daar was pryse toegeken van jonk tot oud in alle kategorieë van .22 tot big-bore kalibers asook pryse vir trofees wat gejag is gedurende die jaar, onder andere die jag van ‘n Damara (Dikdik) wat trofee van die jaar gewen het. Die knap dames van die VLU het behoorlik die gaste bederf met ‘n heerlike 3-gang maaltyd waarvan die pampoenkoekies definitief die hoogtepunt was.

Aan al ons Laeveld Jagters Vereniging lede, oud en nuut, wil ons graag baie dankie sê vir julle getroue bywoning, nie net by die funksie nie, maar ook tydens die skietdae wat Laeveld Jagters Vereniging Komitee-lede en metgeselle gedurende die jaar aangebied is. Aan die komitee wat soveel uitdagings getrotseer het (warm en koue dae, sonskyn en reën) om hierdie skietdae en byeenkomste aan te bied vir die lede, wil ons graag sê dankie vir julle onbaatsugtige getrouheid en diens.

Sonder julle sou niks van hierdie moontlik gewees het nie. Ons sluit nog ‘n jaar van jag, kruit brand en samesyn af. ‘n Baie opwindende 2020 lê voor en ons sien uit om ou en nuwe gesigte by ons skietdae en byeenkomste te verwelkom. Laeveld Jagters Groete, Piet Retief Tak