Gru-ongeluk op die Ermelopad

Op Woensdag, 18 September om 21:00, het ’n gru-ongeluk op die Ermelopad die lewens van drie mense geëis en twee ander kritiek gelaat.

Volgens die drywer van die betrokke Volvo trok het die bestuurder van ’n Toyota Corolla aan die verkeerde kant van die pad gery (die bestuurder was vermoedelik onder die invloed van alkohol). Die bestuurder van die trok het probeer uitswaai om die gru-ongeluk te vermy, maar het steeds die voertuig kop-aan-kop getref.

Op Vrydag, 20 September om ongeveer 15:20, sterf een persoon in ’n gru-ongeluk op die Wakkerstroompad. Die bestuurder van ’n GWM-bakkie het met sy voertuig langs die pad gestaan en wou terugkeer na die pad toe hy met ’n Mercedes Benz trok bots wat vermoedelik nie by die stopstraat gestop het nie. Een ander persoon is lig beseer.

Op Saterdag, 21 September op die hoek van Kerkstraat en Gerhard Böhmer Weg, het nog ’n ongeluk plaasgevind as gevolg van ’n bestuurder wat vermoedelik nie by die stopstraat tot  stilstand gekom het nie. Die bestuurder van die een voertuig het in Gerhard Böhmer Weg gery en gefaal om by die kruising waar die pad met Kerkstraat aansluit, te stop. Hy het gevolglik met ’n voertuig gebots wat vanaf Piet Retief na Pongola gery het. Drie mense is lig beseer tydens hierdie ongeluk.

Dit is moontlik dat drankmisbruik ook ’n rol gespeel het in sommige van die bogenoemde ongelukke. Alkohol is ’n depressant wat hoofsaaklik die brein affekteer. Navorsing toon dat na slegs drie drankies jou reaksietyd wanneer jy bestuur, tussen twee en vier maal stadiger is. Dit kan een of alles van die gevolge hier onder hê:

  • Tonnelvisie. Dit beteken dat jy nie voorwerpe aan jou linker- en regterkant opmerk nie.
  • Dit neem langer om te fokus. Dit is omdat die pupille van jou oë stadiger reageer op skielike veranderings in lig, sodat aankomende hoofligte jou kan verblind.
  • ’n Toename in nagblindheid. Dit kan dit moeiliker maak om voorwerpe in die pad te sien, soos voetgangers, passasiers of motors met swak of geen ligte.

In Suid-Afrika is die wetlike bloed-alkoholvlak 0,05 gram per 100 milliliter, terwyl die asem-alkoholvlak 0,24 milligram per 1 000 milliliter is. Dit is onwettig om ’n bloedtoets of ’n asemtoets te weier.

As jy aan dronkbestuur skuldig bevind word, sal jy gewoonlik beboet word en jou lisensie kan vir ’n sekere tydperk opgeskort word. As jy ’n gewoonte-oortreder is, kan jy met groter bedrae beboet word en jy kan jou bestuurslisensie permanent verloor.

Hou op om onverantwoordelik te wees. Dink voor jy drink en bestuur!

Vir meer inligting rakende dié ongelukke kan mnr. Anton Nortje gekontak word op 079 872 8989.