Pieters-familiereünie
Die Pieterse is beslis ’n jolige familie!

Op Saterdag, 24 Augustus, het die Pieters-familie hulle jaarlikse Pieters-familiereünie by Sundowner in Piet Retief gehad.

Hierdie jaar se Pieters-familiereünie was ’n spesiale een, want dit is die eerste keer in jare dat al die familielede teenwoordig kon wees; oupas en oumas, nefies, niggies, ooms, tannies, pa’s, ma’s,  kleinkinders en selfs agterkleinkinders.

Die jongste een was klein Ewan (16 maande) en die oudste familielede teenwoordig was Attie en Grieta, ’n identiese tweeling wat op Maandag, 26 Augustus, hulle tagtigste verjaarsdag gevier het.

Die reünie was dus nie net ’n geleentheid vir die familie om mekaar weer te sien nie, maar dit was ook ’n kans vir hulle om die merkwaardige verjaarsdag van die tweeling te herdenk. Alhoewel die susters in Ogies gebore is, het hulle in Piet Retief grootgeword en voel steeds bevoorreg om hierdie dorp hulle tuiste te noem.

“Families are like branches on a tree. We grow in different directions yet, our roots remain as one.” – Unknown

Die reünie-tradisie het in 1988 begin en van toe af maak hulle ’n punt daarvan om elke jaar soveel as moontlik van die familie bymekaar te kry, en wat ’n genotvolle gedoente is dit nie keer op keer nie!

Jy kan nie jou familie kies nie, julle word aan mekaar toevertrou sonder dat ’n mens enige sê het in die saak. Daarom is dit belangrik om mekaar lief te hê en te ondersteun, te vergewe en deur moeilike tye te dra.

Geld en aardse besittings vergaan, maar jou familie is vir altyd. So begin vandag nog om tyd vir mekaar te maak!

Pieters-familiereünie
Die tweeling lyk nie ’n dag ouer as 60 nie