Kleurloop = ’n Prettige affêre

Op Woensdag, 11 September het ongeveer 330 mense van alle ouderdomme om 17:30 bymekaargekom vir ’n besonderse colour run / kleurloop by die Piet Retief Rugbyklub.

Dié kleurloop was ’n inisiatief van Ruan Oosthuizen, ’n Landsdiensleerder, wat as deel van sy voorbereiding vir die nasionale Landsdienskap wat later die jaar sal plaasvind, ’n projek moes aanpak waar die hele gemeenskap betrek kon word.

Ruan het ook hierdie geleentheid gebruik om bewusmaking te skep oor ’n saak wat baie na aan sy hart lê. Die fondsinsameling was ten bate van Ian Bouwer, ’n jong man van Piet Retief. Ian ly aan ’n seldsame siekte (serebellêre ataksie) wat hom in ’n rolstoel vasgevang hou en dus wou Ruan die lewe net ’n bietjie gemakliker maak vir hom.

Na afloop van die byeenkoms het die deelnemers ’n drinkdingetjie en ietsie te ete saam geniet terwyl hulle mekaar se kleurvolle gesigte bekyk het. Dit was voorwaar ’n genotvolle aand.

Baie dankie aan al die borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het, asook al die deelnemers wat opgedaag het om die inisiatief te ondersteun.

Berig deur Marie Sorour (neé Gouws)