Dis heerlike lente by die Silwerjare Dienssentrum
Die lede van die Silwerjare Dienssentrum het pragtig gelyk in hulle lente-hoedens

Op Donderdag, 5 September het die lede van die Silwerjare Dienssentrum om 10:00 bymekaargekom om die begin van die heerlike lente op ’n pragtige manier te vier.

Die heerlike lente oggend is geopen met motiverende woorde oor lig en dans. Prediker 3:4 is onder andere voorgelees – ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans.

Selfs wanneer ons deur moeilike tye in die lewe gaan, wanneer ons seer het of wanneer ons liggame verouder, kan ons steeds dans want die Here sal altyd lief bly vir ons. Die trane het vlak in die bejaardes se oë gelê toe hulle hierdie woorde hoor. Na dié pragtige boodskap het almal Lord of the dance van Sydney Carter saam-gesing.

Dit was toe tyd vir die kompetisie om te begin; die gaste het elkeen ’n vrolike lente-tema hoed op hulle koppe gedra en toe modeparade gehou om met hul vindingryke hoedens te spog. Die gehoor moes stem vir wie hulle gedink het die mooiste hoed aangehad het en die wenners is aangekondig. Meraai Robberts, Marina Smalberger en Wilhelm Metelerkamp het elkeen ’n geskenkpakkie vir hulle kreatiewe hoede ontvang.

Die oggend is afgesluit met smaaklike peuselhappies en ’n heerlike koppie boeretroos.

Dankie aan elkeen wat hierdie oggend moontlik gemaak het en dankie ook aan elke lid wat soveel moeite met hulle pragtige skeppings gedoen het.

“Dance then wherever you may be,

 I am the Lord of the dance, said He,

 I’ll lead you all, wherever you may be,

 I will lead you all in the dance, said He.” – Lord of the dance