Barnyard 2019 – At the movies

Barnyard 2019 musiek het ’n manier om mense bymekaar te bring, van hulle sorge te laat vergeet en die tyd te laat stilstaan.

Dit is presies wat die Barnyard 2019 hierdie jaar by Fontana gemeente reggekry het.

Hierdie spoggerige vertoning het tussen 11 en 13 September plaasgevind en die verhoogkunstenaars het ’n vertoning gelewer soos nog nooit vantevore nie. Gaste het op ’n rooi tapyt die kerk binnegestap, wat hulle soos die bekendes by ’n Hollywood funksie laat voel het. Rona van Blerk het haarself goed van haar taak as seremoniemeester gekwyt en sy het dadelik die gehoor se volle aandag gehad.

Barnyard 2019 –  At the movies
Die kunstenaars het ’n briljante vertoning gelewer

Die aand het begin met ’n pragtige uitvoering van Pretty Woman en daarna het die kunstenaars elk ’n beurt gekry om die gehoor se gunsteling liedjies uit bekende films te sing. Treffers soos Eye of the Tiger, Grease en Footloose het die toehoorders se voete lus vir dans gehad terwyl liedjies soos When she loved me van Toy Story en Voshaarnooi weer veroorsaak het dat die trane wou rol.

Van begin tot einde was die aand ’n reusesukses. Die kunstenaars het hulself goed voorberei en die wat agter die skerms gehelp het met grimering, kostuums en klank het beslis ook hulle kant gebring. Die geleentheid het nie net goeie vermaak gebied nie, maar ook heerlike verversings vir gaste om te geniet tydens die pouse.

Baie dankie aan elkeen wat opgedaag het om die Barnyard te ondersteun. Dankie ook aan almal betrokke wat hulle so uitstekend van hul taak gekwyt het.

Die Barnyard moet verseker op die kalender van vermaak vir Piet Retief se mense geplaas word. Dit is ’n hoogtepunt!