1969-matriekjaar Reünie

Dit was met afwagting en groot opwinding wat ‘n klompie oudleerlinge van Hoërskool Piet Retief van oor die land die pad na hulle alma mater aangepak het om die pas afgelope naweek die reünie van hulle 1969-matriekjaar te herdenk.

Sewentien  van hulle het vir die geleentheid by Sundowner Lodge bymekaar gekom om die unieke geleentheid te vier. Die meeste was ook van hulle gades vergesel. Slegs een van die oudleerlinge, Selwyn Böhmer, is nog woonagtig te Piet Retief. Die hoofseun en hoofmeisie van 1969, Kobus van Wyk en Helene Cooke, neé Böhmer, het steeds hulle slag as leiers gewys. Die onderhoofseun, Johan Schlebusch, was ook teenwoordig. Drie oudonderwy-sers, Daan Kruger en sy vrou, Elmarie, asook juffrou Drent (nou Anna Sonnendecker) het ook lekker saamgekuier.

1969-matriekjaar Reünie
Hoofleiers van 1969

Alhoewel sommige die meeste van die byeenkoms wou maak en dus Vrydagmiddag al begin kuier het, het die verrigtinge amptelik Saterdagoggend afgeskop met ‘n besoek aan die skoolterrein, waar mnr. Barry Bouwer, die skoolhoof, hulle ingelig het oor die positiewe groei wat die skool beleef. Daarna is hulle op ‘n toer van die terrein geneem en hulle was veral beïndruk met hoe die koshuise nou daar uitsien. Hulle kon nie anders as om terug te dink aan die dae toe hulle as standard sessies 12 in ‘n slaapsaal gebly het nie.

Saterdagnamiddag, terug by die Lodge, het elkeen die geleentheid gekry om vir die res te vertel hoe hulle lewens oor die afgelope 50 jaar verloop het en staaltjies oor hulle skooldae uit te ruil. Die aand is afgesluit met ‘n uithalerete wat die Lodge voorgesit het.

Maar dié wat ons te vroeg ontval het, was ook in ons gedagtes, veral ons skoolhoof van 1969, mnr. JP Botha, wat vroeër vanjaar oorlede is. Ons het hulle gemis.

Na ontbyt Sondagoggend, het almal met swaar harte hulle ou vriende gegroet en geweet: Die bande wat hulle by Hoërskool Piet Retief gesluit het, het die toets van die tyd deurstaan en verryk steeds hulle lewens.