Hierdie bakkie was betrokke in ‘n trompop botsing nadat die son die bestuurder se sig belemmer het

Ongeluksverslag (8 – 18 Julie). Die informasie vir die weeklikse ongeluksverslag word voorsien deur mnr. Anton Nortje, hoof van die Mkhondo Nooddienste. Vir meer inligting skakel hom gerus op 079 872 8989.

Op Maandag, 8 Julie op die Ermelopad (ongeveer 16:50) is drie individue lig beseer in ’n trompop botsing. ’n Wit bakkie het in die rigting van Ermelo gery vanaf Piet Retief toe hy ’n motor wou verbysteek. Die son het sy sig belemmer en hy het nie die aankomende voertuig gesien nie.

Op Vrydag 12 Julie, op die Paulpietersburgpad, om 14:10 het ’n bestuurder beheer verloor en in die agterkant van ’n bakkie vasgery. Die voertuig is van die pad af en het gerol. Een persoon is lig beseer en die voertuig het baie skade opgedoen.

Die belangrikheid van kennis oor hoe om ’n verkeersirkel te gebruik was duidelik toe die bestuurder van ’n bussie op Sondag, 14 Julie uit sy beurt uit in die sirkel op die Gerhard Böhmer pad  gery het, vanaf eThandakukhanya se rigting. Die bussie het gevolglik in ’n ander voertuig vasgery en geen beserings is aangemeld nie.

Op Donderdag, 18 Julie, ongeveer 15:30, het die bestuurder van ’n voertuig in ’n stilstaande trok vasgery en moes uit sy voertuig gesny word met reddingskake. Hy is na die hospitaal afgevoer met ernstige beserings. Geen ander beserings is tydens hierdie ongeluk aangemeld nie.

Ook op Donderdag, 18 Julie, is die Nooddienste na ’n ongeluk op die Wakkerstroompad uitgeroep. Ongeveer 09:00 het die be-stuurder van ’n bakkie wat vanaf Wakkerstroom na Piet Retief gery het, beheer oor sy voertuig verloor en dit gerol. Die voertuig was vol skoolkinders waarvan sommige na ’n kliniek en ander hospitaal toe geneem moes word weens ligte bese-rings.

Op Maandag, 22 Julie is die Nooddienste ontbied na ’n vuur in Rabestraat. Die motorhuis op die erf het aan die brand geraak en die oorsaak van die vuur is steeds onbekend. Ongelukkig het die vuurtrokke gesukkel om by die vuur uit te kom, as gevolg van nuuskieriges wat onbedagsaam opgetree het en hulle voertuie in die pad parkeer het. Asseblief mense, werk saam.

Wees oplettend wanneer jy rondry, jou aandag kan vir net een oomblik afgetrek word en dit kan ’n lewe kos. Hê respek vir die Nooddienste wanneer hulle op pad is na ’n ongelukstoneel, hulle taak is klaar moeilik genoeg.