Propvol sportskedule vir Laerskool Piet Retief

’n Propvol sportskedule hou die ouers en die leerders van Laerskool Piet Retief op hulle tone hierdie kwartaal.

Krieket:

Die krieketspanne speel al vir die afgelope twee weke teen verskeie skole en op 22 Julie het die gemengde O/9- en O/10-span teen Laerskool JJ van der Merwe te staan gekom. Na ’n goeie wedstryd kry die Pieties dit reg om met vier lopies te wen.

Die O/11-krieketspan het op Donderdag, 18 Julie, teen Standerton gespeel. Eerste aan die kolf was Standerton, hulle behaal ’n telling van 202 lopies. Dit was nie ’n maklike telling om te jaag vir Piet Retief nie en ongelukkig kry hulle dit toe net reg om 51 lopies aan te teken.

Die O/11-span het op Donderdag, 25 Julie weer gespeel, die keer teen Laerskool Trichardt. Piet Retief was eerste aan die beurt en teken 60 lopies aan met almal uit na die 15de boulbeurt. Trichardt steek dié telling verby in die 14de boulbeurt.

Op Donderdag, 18 Julie, kom die eerstespan te staan teen Standerton in ’n taai wedstryd. Standerton het eerste gekolf en teken 152 lopies aan. Piet Retief doen hul beste om die telling verby te steek en benodig net drie lopies met die laaste bal om te wen. Hulle kry dit toe net reg om een lopie te hardloop en ’n nederlaag met net een lopie was hulle voorland.

Op Donderdag, 25 Julie, probeer die eerstespan hulle eer herstel teen Laerskool Trichardt. Piet Retief begin die wedstryd en teken 139 lopies aan met die verlies van agt paaltjies in 25 boulbeurte. Trichardt speel ’n goeie wedstryd en kort teen die einde van die wedstryd 16 lopies van die laaste 18 balle. Hulle steek Piet Retief se telling in die voorlaaste boulbeurt verby met die verlies van net ses paaltjies.

Sokker:

Op Woensdag, 24 Julie speel die sokkerspanne teen Drakensberg (Newcastle). Die O/11-span wen 3-0 en die eerstespan speel 2-2 gelykop.

Landloop:

Die landloopatlete van LPR het op Vrydag, 26 Julie, aan ’n byeenkoms in Standerton gaan deelneem. Die dag is deur Laerskool Kallie de Haas aangebied en twintig van die Piet Retief atlete het ’n top-10 plek behaal in hulle verskillende ouderdomsgroepe.

Mini-Krieket:

Op Saterdag, 27 Julie, het die Laerskool ’n mini-krieket toernooi aangebied. Die skole van Amersfoort, Amsterdam, Laerskool Ermelo (English Meduim), Lüneburg, Marietjie van Niekerk (Bethal), Pionier (Volksrust) en Wittenberg het teen mekaar kom deelneem. Van die skole het nie genoeg spelers gehad om ’n span vol te maak nie en van die ouers het toe ingespring om wedstryde teen die leerders te speel. Die dag was ’n groot sukses en vol pret vir almal.

Welgedaan julle!