Cupcakes of Hope

“Cupcakes of Hope for kids with cancer” is ’n organisasie wat fondse insamel vir kinders wat die stryd teen kanker veg.

Riana Terblanche en Elmarie de Beer van Piet Retief het die inisiatief geneem om hulle vir hierdie lofwaardige Cupcakes of Hope saak te beywer.

Die eerste Cupcakes of Hope fondsinsameling wat deur hulle gehou is, was by die Hoeka Toeka Karskou op Saterdag, 3 Augustus.

Hulle het 524 heerlike kolwyntjies, geborg deur Cupcake Angels, verkoop, asook skuimpies geborg deur Pick n Pay en kiepie-mielies geborg deur Wimpy. ’n Totaal van R3 300-00 is ingesamel tydens hierdie dag. Die fondse word direk aan die organisasie oorbetaal en hulle deel dit dan uit waar daar nood is. Hetsy dit vir die vervoer van kankerpasiënte, hospitaalonkstes of medikasie is.

As daar ’n kind in Piet Retief is wat fondse benodig, kan dit ook aan hom/haar geskenk word. Saam met die fondsinsameling het hulle ook pamflette uitgedeel met die gevaartekens vir kinders wat miskien kanker het, sodat ouers weet waarvoor om uit te kyk.

Sommige van die gevaartekens vir kinders wat moontlik kanker het, sluit in:

  • ’n Onverklaarbare koors wat aanhoudend terugkeer.
  • Jou kind se visie verander skielik (Blindheid, wit kolletjies in die oog, bultende oogbal)
  • ’n Konstante moegheid en duidelike bleekheid.
  • Knoppe onder die arms of op die nek, kop of maag.
  • Konstante hoofpyn en vroegoggend braking.
  • Jou kind se balans en manier van loop verander.
  • Jou kind se ontwikkeling gaan agteruit of kom tot ’n stilstand.
  • Jou kind se gedrag verander.

Vir meer inligting oor Cupcakes of Hope, of om betrokke te raak by hierdie projek, kontak gerus vir Riana Terblanche op 082 424 0896.