Veldbrande se rook belemmer sig
’n Brandende bos het gevaarlike vlamme veroorsaak

Die geknetter van vlamme van veldbrande is nie ’n nuwe geluid vir die inwoners van Piet Retief nie, en Vrydag, 21 Junie 2019, was dit geensins anders nie.

Teen omstreeks 17:00, was die hele dorp oortrek met rook nadat veldbrande ontstaan het in die vlei in Mullerstraat. In sommige strate was die rook so dig dat voertuie se bestuurders mekaar nie kon sien nie.

Veldbrande se rook belemmer sig
Dié onverwagse besoeker het voertuigbestuurders ompaaie laat ry

Boonop het die wind opgesteek en die Nooddienste het kom bystand bied om seker te maak dat die vuur nie hand uitruk nie. Inwoners van die omliggende omgewing het omtrent ’n rokerige Vrydagaand beleef.

Die Nooddienste vra weereens dat almal versigtig moet wees aangaande vure. Dit is onwettig om tydens die vuurseisoen enige vure in die opelug aan te steek sonder toestemming.

Alhoewel die gedruis van vliegtuie tydens die wintermaande algemeen is, is dit nie altyd ’n welkome klank nie. Die skade van vure wat onbewaak gelaat word, is onherroeplik en kan katastrofiese gevolge hê.