Vyf ongelukke - Five Car Accidents in Piet Retief

Net vyf ongelukke is tydens die langnaweek aan die Nooddienste gerapporteer.

Inligting aangaande dié vyf ongelukke is aan ons verskaf deur die Mkhondo Nooddienste en vir meer inligting kontak gerus vir mnr. Anton Nortje op 079 872 8989 .

Op Vrydag, 14 Junie 2019, om 13:25, is die Nooddienste ontbied na ’n ongeluk op die Mahambapad. ’n Wit Honda het die rooi Hyundai wat voor hom gery het verbygesteek, die Honda het te vinnig teruggekeer na die linkerkantste baan en die Hyundai getref. Die Honda het as gevolg van dié impak beheer verloor en gerol. Een persoon is ernstig beseer en twee het die toneel verlaat met ligte beserings.

Nooddienste is om 02:50 op Saterdag, 15 Junie 2019, na ’n ongeluk ontbied op die Pongolapad. ’n Wit bakkie het vanaf Piet Retief in die rigting van Pongola gereis toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit gerol het. Niemand is beseer nie.

Op Saterdag, 15 Junie 2019, omstreeks 03:00, het ’n groen Chevrolet agter teen ’n blou-grys Toyota Corolla gebots. Volgens die verslag het die Toyota in Kerkstraat by ’n rooi verkeerslig gewag toe die Chevrolet onverwags in hom vasgery het. Geen beserings is aangemeld nie.

Ook op Saterdag, 15 Junie 2019, om 13:30, is drie persone lig beseer toe die bestuurder van ’n wit bakkie op die Emathlatinipad beheer verloor en die voertuig gerol het.

’n Bees het probleme veroorsaak op Sondag, 16 Junie 2019, toe die Nooddienste ontbied is na ’n ongeluk op die Pongolapad. Die eerste ongeluk het omstreeks 01:00 plaasgevind; ’n swart voertuig het ’n bees in die pad ge-tref en een persoon is beseer. Die bestuurder van die    voertuig het die toneel verlaat en die bees net daar in die pad gelaat. Volgens die verslag het ’n silwer voertuig net daarna ook die bees getref en een persoon is ernstig beseer en twee ander lig.

Mkhondo het lig daarvan afgekom dié langnaweek in vergelyking met ander dele van Suid-Afrika. In Limpopo en dele van Mpumalanga alleenlik is 42 mense dood en talle ander beseer tydens ongelukke wat deur die loop van die naweek plaasgevind het.

Wees versigtig, wees behoedsaam, wees veilig!