Geen silo is te groot vir megaboer, BP Greyling nie

Mnr. BP Greyling, ’n megaboer van Wakkerstroom, het een van die grootste graansilo’s in private besit in Suid-Afrika, op sy plaas laat oprig.

Volgens die Landbouweekblad kan die massiewe silo 11 000 ton mielies berg en is deel van ’n hele kompleks wat ’n graandroër en skoonmaker insluit. Dié nuwe silo verhoog hul opbergvermoë tot 21 000 ton graan.

Megaboer BP Greyling
Ghini en BP hier saam met BP se ouers, oom Kerneels en tannie Stienie Greyling

Die nuwe skoonmaker kan 120 ton mielies per uur skoonmaak en die graandroër kan tot 600 ton mielies per dag droogmaak. Volgens die silobouer, mnr. Dave Ohlmesdahl van Centurion, is dit die grootste silo wat nóg deur die silomaatskappy GSI in Suid- Afrika op ’n plaas opgerig is.

Meer as 200 boere en ander belanghebbendes het die amptelike inwyding van die silokompleks en nuwe veevoerfabriek op mnr. Greyling se plaas, Langfontein, bygewoon. Volgens mnr. Ghini Greyling, wat saam met sy pa boer, is die doel van die nuwe silo om hul mielies vroeër te stroop. Hulle kan dan ook hul duisende beeste en skape gouer op die oesreste laat wei.

Dit spaar hulle geld op onnodige, hoë vervoer-, hanterings- en opbergingskostes. Hulle kan dus die graan dan teen hoër pryse bemark. Die veevoerfabriek wat reg langs die silokompleks gebou is, is deur ’n ingenieur, mnr. Sarel Kritzinger, ontwerp en die masjinerie is deur mnr. Willie Jones van Koster, ontwerp en gebou.

Die fabriek vervaardig voer vir beeste, skape, perde en honde, en maak ook voerkorrels. Volgens mnr. Greyling is die produkte nog net vir eie gebruik en vir verkope van voorskrif- en pasmaakmengsels. Die aanleg besit beslis die potensiaal om uitgebrei te word. Mnr. Greyling wou nie die kostes van die nuwe kompleks verklap nie. Niks kan hierdie megaboer se stoomtrein stuit nie en sy toekoms skyn so helder soos die sonsopkoms op die horison.