Landsdieners kamp
Die trofee vir “Landsdiensklub van die Jaar” kon weer teruggebring word

Op Woensdag, 19 Junie 2019, was die landsdiensleerlinge slaggereed om te vertrek na die jaarlikse landsdienskamp by die Glenrock kampeerterrein naby Mooirivier.

 Mooi getooi in hulle nuwe geborgde hemde en pette was hulle reg om hulle “Landsdiensklub van 2018” titel te gaan verdedig.

Hierdie kamp het weereens gesorg vir hope pret en plesier en verskeie aktiwiteite kon deur die leerlinge geniet word. Dié aktiwiteite het ingesluit: roei, torings bou en klim, hindernisbane, “foosball”, pyl-en-boog skiet, toubaan, boom-abseil, nagmars, wildkyk, handwerk en nog baie meer.

Tydens die laaste aand is die toekennings aangekondig en vir die eerste keer in Laerskool Piet Retief se geskiedenis het daar vyf leerlinge hulle Springbok-kleure ontvang.

Baie geluk aan Donel Uys, Dylan McManus, Carla Griessel, Stefanie Maritz en Miané de Bruin, julle is ware ambassadeurs vir die Landsdiensbeweging.

Die nasionale span is aangekondig en agt LPR leerlinge is ingesluit by die span van 14 leerlinge. Die leerlinge wat gekies is, is Dylan McManus (hoofleier), Miané de Bruin (onderleier), Ruan Oosthuizen, Duandre Moolman, Mandayi Msomi, Cornelis Uys, Micayla Bouwer en Zoë Botha. Almal was verras toe mnr. Jason Saayman gekies is om hierdie span te vergesel.

Tot al die leerders se vreugde is LPR weer aangewys as die “Landsdiensklub van 2019” en die trofee kon huis toe kom. Baie tevrede met hulle prestasies het die groep op Sondag, 23 Junie 2019, teruggekeer na Piet Retief.


Landsdieners woeker voort

Die Excelsior Nuus het in verskeie edisies artikels gepubliseer oor die Landsdieners leerlinge van Laerskool Piet Retief wat besig is met ’n liefdadigheidsprojek vir Landsdiens en hulle het behoorlik alles ingesit vir hierdie projekte.

Dylan McManus het hande uitgereik na Uzwelo Kinderhuis en hy het items soos skryfbehoeftes en klere bymekaargemaak. Hy het egter vir homself nóg ’n doelwit gestel en dit is om genoeg geld in te samel sodat hy vir elkeen van die 51 kinders ’n Kersgeskenk kan koop. Baie dankie vir jou onbaatsugtige ondersteuning en hulp Dylan!

Miané de Bruin het die Rustplaas Dog Shelter onder haar vlerk geneem en sy het kos en beddens vir die hondekinders ingesamel. Sy het van verskeie maniere gebruik gemaak om geld in te samel en selfs hamburgers verkoop om fondse te in vir veeartsrekeninge.

Dankie, Miané vir jou mooi gebaar en dat jy gesorg het om baie diereharte bly te maak! Stefanie Maritz het uitgereik na ’n minderbevoorregte plaasgemeenskap met behulp van die Tholulwazi Tholumphilo Network (TTN). Sy het vir hulle kos en klere uitgedeel en ook saailinge bymekaargemaak sodat hulle groente kon plant en so vir hulself voedselsekuriteit verseker.

Hou so aan Stefanie! Jou betrokkenheid maak ’n groot verskil. Carla Griessel het die gemeenskap van Riverside genader en sy het die kleuters leer tel, aan hulle basiese opvoedkundige vaardighede gewys en hulle beloon met vrugte, sap en ’n lekkertjie. Sy het hulle ook geleer van higiëne en vir elkeen ’n nuwe tandeborsel en tandepasta gegee.

Die ouer dogters het elkeen toiletware ontvang. Dankie, Carla vir jou omgee en liefde teenoor jou naaste! Dónel Uys het hande met die plaaslike CMR (Christelike Maatskaplike Raad) gevat en het verskeie items ingesamel vir behoeftige gesinne in Piet Retief. Sy het Maranatha Laerskool genader en hulle het aan haar ’n enorme bydrae gegee. Dónel het baie moeite gedoen en daarvoor word sy hartlik bedank.

Dónel en Miané het onlangs ook by ’n huis vir die versorging van babas in Ermelo gaan besoek aflê waar hulle klere oorhandig het. Hulle het daarna ook ’n toevlugsoord besoek en die inwoners bederf met lekkergoedpakkies.

Hierdie Landsdieners stel vir elkeen van ons die perfekte voorbeeld en dit is duidelik dat daar waar ’n wil is, ’n weg is. Hierdie kinders het reeds groot spore in die gemeenskap van Piet Retief getrap en ons kan baie trots wees op elkeen van hulle!