Egipte – Die land van die Farao’s
’n Kameelrit by die Piramides van Giza

Egipte – Die land van die Farao’s

Tydens die skoolvakansie het 23 leerlinge en drie onderwysers van Hoërskool Piet Retief vir 10 dae lank Suid-Afrika agtergelaat vir ’n ander land, Egipte.

Op Sondag, 23 Junie 2019, het dié groep van 26 vanaf Hoërskool Piet Retief vertrek om soos kundiges Egipte te gaan verken op hulle akademiese toer. O.R. Tambo lughawe het nie geweet wat hom tref toe die opgewonde leerders soos ’n warrelwind daar opdaag vir hulle vlug nie.

Daar is baie ge-leer oor die verskillende kulture van die Egiptenare asook die antieke geskiedenis van die piramides en die tempels in Egipte. Dié avontuur is gelei deur ’n ervare Egiptoloog.

Die hoogtepunte van die ekspedisie het die volgende ingesluit: kameelritte, ’n 4×4 avontuur, ’n bootvaart op die Nylrivier asook snorkel in die Rooi See. Die piramides was definitief ook een van die hoogtepunte.

Alles was nie net leersaam en akademies nie, die avonturiers  se toer het geëindig by die 5-ster Movenpick-oord in Hurghada waar hulle koninklike behandeling ontvang het.

Moeg, maar baie tevrede, het hulle die terugtog Suid-Afrika toe aangepak, waar hulle deur hul families op die lughawe ingewag is.

Hulle sal nooit die betowerende Egipte vergeet nie en ’n klein stukkie van almal se harte sal vir ewig daar agterbly.