911 Riders - Bikers Ride Against Farm Murders
Die konvooi motorfietse op pad na na wyle mnr. Meyer se plaas, Waaihoek

Bikers Ride Against Farm Murders ” (BRAFM) wat ook bekend staan as die “911 Riders”, is ’n motorfiets-organisasie wat sowat drie jaar gelede gestig is met die doel om die bewusmaking van hoofsaaklik plaasmoorde, te verskerp.

Hulle poog ook om gesonde verhoudings te bou tussen die polisie en plaaslike gemeenskappe. Landswye motorfietsgroepe vorm deel van die “911 Riders”.

Die “911 Riders” motorfietsgroep van Nelspruit, het ’n optog vanaf Ermelo na die plaas Waaihoek Naby Sheepmoor gelei, waar ’n boer, mnr. Moolman Meyer (67) gedurende die naweek van 8 Junie 2019, wreed vermoor is.

Dié groep het alle belangstellendes genooi om 11:00 op 15 Junie 2019, by die Ermelo polisiestasie bymekaar te kom. Verskeie motorfietsgroepe het uit verskillende dorpe en op verskillende tye vertrek om teen 11:00 in Ermelo te wees.

Daar was vertrekpunte in Nelspruit, Barberton, Breyten, Carolina en natuurlik Ermelo. Talle mense het opgedaag en rooi linte is op voertuie, motorfietse en om inwoners se arms vasgebind as ’n teken van kameraadskap en om ’n standpunt in te neem teen die vele plaasmoorde in Suid-Afrika.

Om 11:00, het al die ysterperde in ’n konvooi vertrek na plaas Waaihoek waar mnr. T.J. Maré die gebed gelei het. Die hele gemeenskap het saam op hulle knieë gegaan en vir die familie asook vir plaasmoorde gebid.

Die grootste doel van dié samekoms was om mnr. Meyer se familie te ontmoet en medelye te betuig met sy afsterwe. Volgens mnr. T.J. Maré, Nasionale president van die “911 Riders”, is daar geen beter manier as ’n groep motorfietsryers wat saam beweeg, om sake op die voorgrond van die nuus te bring nie.

Volgens wat verneem is, het mnr. Meyer se roudiens op 20 Junie 2019, vanuit die Hervormde Kerk op Chrissiesmeer plaasgevind. Sy as is na die diens op die plaas gestrooi.

Bron: Hoëvelder.