Mpumalanga Jongboer van die Jaar - Rian Maree

Rian Maree, ’n boer van die Piet Retief omgewing, het ’n passie vir dit wat hy doen en is op Donderdag, 6 Junie 2019, tydens ’n glansgeleentheid as die Mpumalanga Jongboer van die Jaar aangewys.

Dit het plaasgevind tydens die Mpumalanga Landboukongres by die Ingwenyama Conference and Sports Resort in Witrivier.

Mpumalanga Jongboer van die Jaar - Rian Maree
Rian tydens die oorhandiging saam met sy vrou, Jacoline Maree

Kandidate vir dié toekenning word regoor Mpumalanga genomineer. Rian Maree is deur die beoordelaars gekontak om te hoor of hy sou belang stel om deel te neem. ’n Beoordelingskriteriavorm is aan al die kandidate gestuur om te voltooi.

Die beoordelaars het ’n besoek op sy plaas kom aflê waar Rian Maree hulle meer vertel het oor sy boerdery en sy verantwoordelikhede. Hy het ook vir hulle al die fisiese praktyke aangaande die boerdery gewys.

Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word. Die boer word ook op die volgende punte beoordeel:

  • Toekomsbeeld.
  • Begrotings, rekords, finansiering, beleggingsfilosofie en liasseerstelsel.
  • Produksie.
  • Bemarkingsfilosofie.
  • Onderhoudsbeleid.
  • Personeelpraktyke en arbeidsfilosofie.
  • Betrokkenheid by georganiseerde landbou en gemeenskap.
  • Professionele profiel

Rian het aan die Universiteit van Bloemfontein studeer en in 2007 sy graad in B.Agric ontvang. Daarna is hy terug plaas toe waar hy tot vandag toe nog saam met sy pa boer.

Dit was vir Rian ’n groot voorreg om as Jong Boer van die Jaar aangewys te word. Met al die uitdagings wat daar in ’n boerdery is en die negatiewe politieke klimaat voel hy geëerd om so beloon te word, dit is lekker om raakgesien te word vir jou harde werk en dit gee jou weer nuwe lus vir die boerdery en sy uitdagings.

Volgens Rian beskou hy homself nie as die beste boer nie, omrede hy voel daar is altyd iets te leer by ’n medeboer. Hy deel ook graag sy eie kennis met ander boere. Hy is nie bang om te vra of om te kyk hoe ander boere dinge doen en dit dan self op sy praktyke toe te pas en so sy boerdery te verbeter nie. Hy beskou homself wel as ’n boer wat toegewyd is en alles so akkuraat as moontlik probeer doen.

Wat sy sukses betref, is dit nie net hy alleen nie, sy pa en vennoot in die besigheid, Hugo Maree, speel ook ’n belangrike rol. Hulle neem saam besluite om ’n sukses van die  boerdery te maak alhoewel hulle elkeen hulle eie afdeling het om te bestuur.

Natuurlik is daar ook agter elke suksesvolle boer ’n vrou en volgens Rian ondersteun sy vrou, Jacoline, hom ten volle en motiveer hom met elke uitdaging wat daar mag opduik.

Baie geluk met jou toekenning Rian, Piet Retief se mense is voorwaar baie trots op al sy voortreflike boere in die omgewing.