‘n Vrou rol haar voertuig toe sy ‘n trompop botsing wou vermy

Die Mkhondo Nooddienste kon nie vir ’n oomblik stilsit nie, aangesien hulle na vele ongelukke uitgeroep is.

Die volgende is aan die Excelsior Nuus deurgegee deur mnr. Anton Nortje, hoof van die Mkhondo Nooddienste, sel 079 872 8989. Op 29 Mei 2019, op die Ermelopad, ongeveer 18:15, het ’n voertuig wat van Ermelo na Piet Retief gery het, teen ’n bees gebots. Die bestuurder van die voertuig het uitgeswenk en ’n aankomende voertuig getref. Die bestuurders van beide voertuie is dood.

Op 30 Mei, ongeveer 18:31, is die Nooddienste ontbied na nog ’n voorval waar ’n voertuig ’n bees getref het, ook op die Ermelopad. Daar was net een voertuig betrokke en genadiglik is daar geen beserings aangemeld nie.

Op Saterdag, 1 Junie, is die Mkhondo Nooddienste personeel na ’n toneel ontbied waar ’n voetganger deur twee voertuie getref is. Hierdie gru-ongeluk het op die Ermelopad, omtrent 18:45 gebeur. Die voetganger was besig om die pad oor te steek toe die eerste voertuig hom tref.

Die voertuigbestuurder het tevergeefs probeer uitswaai om die voetganger te vermy en ’n aankomende voertuig getref. ’n Voertuig wat agter die motor gery het wat die voetganger getref het, kon nie vinnig genoeg remme aanslaan nie en is toe ook bo-oor die voetganger. Die man is dood verklaar op die toneel. Hierdie ongeluk is net weer ’n herinnering aan padgebruikers om op hulle hoede te wees vir voetgangers. Maak seker dat jy by die spoedgrens hou.

Maak ook seker dat al die ligte op jou voertuig funksioneer. Behou ’n veilige volgafstand, dat wanneer so iets gebeur, jy genoeg tyd het om jou voertuig tot stilstand te bring. Op Sondag, 2 Junie, het ’n vrou haar voertuig gerol toe sy uitgeswenk het om ’n trompop botsing te probeer vermy. Sy het vanaf Ermelo in die rigting van Piet Retief gereis en sy het geen beserings opgedoen nie.

Nog ’n ongeluk is op Sondag aangemeld toe ’n persoon op die Ermelopad, in die pad ingehardloop het om ’n sokkerbal op te tel. Hy is deur ’n voertuig getref en is met kritieke beserings in die hospitaal opgeneem. Die Noodpersoneel is na ’n derde ongeluk op die 2de Junie uitgeroep toe ’n bakkie op pad na eThandakukhanya vanaf Piet Retief, beheer oor sy voertuig verloor en die motor voor hom tref.

Die bestuurder van die bakkie is na die hospitaal geneem met veelvoudige beserings. Niemand anders het seergekry nie. Op Dinsdag, 4 Junie 2019, het ’n ongeluk op die hoek van Mark– en Noordendstraat plaasgevind wat ’n deel van Piet Retief sonder krag gelaat het. ’n Bestuurder, onder die invloed van alkohol, het in ’n eenrigtingpad in die verkeerde rigting gery.

Hy het toe voor ’n bakkie, wat in Markstraat gery het, ingedraai en die twee het teen ’n kragboks vasgery tydens die ongeluk. Die bestuurder is in hegtenis geneem. Dit is opmerklik dat bestuurders nie oplet soos wat hulle veronderstel is wanneer hulle bestuur nie. Wees op jou hoede en onthou om die padreëls te gehoorsaam. Dit is daar om almal veilig te hou.