Hartsbekers gevul by Hemelvaartdienste

Op Donderdag, 30 Mei, het Christene vanuit die hele Piet Retief by hulle verskeie kerke en skole bymekaargekom vir die Hemelvaartdienste.

Laerskool Piet Retief het die oggend op ’n gepaste manier begin toe hulle in die heerlike sonskyn na verskeie kerke toe gestap het om ’n boodskap wat hulle vir altyd gaan koester, te ontvang met die Hemelvaartdienste.

Dr. Hancke van Blerk het aan die Afrikaansmedium leerders meer vertel van die gebroke wêreld waarin ons vandag leef.

Hy het aan die skoliere verduidelik dat hulle waarskynlik nog baie pyn en seer in hulle lewens gaan ervaar maar dat hulle hulself nie hoef te bekommer nie. Hy het verduidelik dat Jesus die gelowiges gaan kom haal en dat hulle by sy voete sal sit. Dan gaan ons vir altyd vry wees van sonde, pyn en lyding.

Jesus het opgevaar om vir ons ’n plek voor te berei en nou het ons die Heilige Gees om ons te lei. Die Engelsmedium leerders het hulle boodskap van pastoor Tom Mc- Seveny ontvang en hy het die leerders aan die volgende herinner:

  1. Jesus is huis toe om vir ons ’n plek voor te berei, by Hom.
  2. Hy gaan eendag terugkeer op die wolke, net soos Hy opgevaar het.
  3. Hy het die Heilige Gees aan ons gegee, wat binne-in ons bly.
  4. Dieselfde krag wat Jesus uit die dood gewek het, leef nou binne-in ons. Plaaslike kerke het ook aanddienste gehou om die werkersklas deel te maak van dié spesiale dag.

Selfs kleuterskole het die dag gevier op hulle eie spesiale manier. Dit is werklik ’n groot voorreg vir Christene regoor die wêreld om hierdie dag saam te kan vier.

Mens hoop dat almal die boodskap wat aan hulle gebring is in hulle harte sal koester en daaraan sal vashou in moeilike tye. Johannes 14:3 “En as ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.”