Emil Paul

Die proses begin al lank voordat opgewonde Suid- Afrikaners dit op hulle televisieskerms sien. Niks kan jou voorberei vir die stres van so ’n groot geleentheid nie.

Daar word geglo dat die oudisies wat ons op ons televisie skerms sien, wanneer “The Voice” se eerste episode uitgesaai word, die kunstenaars se eerste kans is om voet in die deur te kry. Die waarheid is dat kunstenaars van regoor die hele land al weke voor die tyd video-opnames van hulself instuur, wat dien as hulle eerste oudisie.

Daarna word jy genooi om ’n aanlyn onderhoud te voer en dan besluit hulle of jy na die blinde oudisies genooi sal word al dan nie. Emil was verheug toe hy die oproep ontvang om in Johannesburg aan die oudisies te gaan deelneem, min het hy besef hoe oorspanne dit werklik vir sy gemoed gaan wees.

Tien dae voor sy groot dag, het hy Johannesburg toe gegaan om ’n “Bootcamp” saam met die ander kunstenaars wat ook genooi is, te doen. Gedurende hierdie tyd het hy sy liedjie vir die oudisie geoefen, TVsegmente is geskiet en die ander deelnemers is beter leer ken.

Op die dag van sy oudisie voor die beoordelaars, het die omvang van die geleentheid hom eers getref. Emil sê dat hy die dag skaars kan onthou, as gevolg van die stres. Hy het sy hart uitgesing en dit was ’n groot verligting toe Francois van Coke sy stoel omdraai om vir Emil te wys dat hy hom in sy span wil hê. Van daardie oomblik af, begin jy dadelik voorberei vir die uitdunrondes.

Ongelukkig is dit waar Emil se avontuur tot ’n einde gekom het. Hy is baie dankbaar vir die geleentheid wat aan hom gebied is en deur aan hierdie kompetisie deel te neem. Hy het baie kontakte opgebou wat hom kan help met sy toekoms in die musiekbedryf. Baie min mense kan sê dat hulle Francois van Coke en Riana Nel se telefoonnommers het, vir wanneer advies benodig word.

Emil is tans besig om aan sy nuwe album te werk, wat later in die jaar vrygestel sal word. Hy is ook besig om ’n duet saam met ’n welbekende kunstenaar op te neem, hoe opwindend! Baie geluk Emil! Ons sien saam met jou uit na dit wat die toekoms vir jou gaan inhou!