Bosbou Rolbaldag

Op Saterdag, 18 Mei 2019, het 20 rolbalspanne hulle skoene uitgeskop om deel te neem aan die 2019 Bosbou Rolbaldag “Barefoot Bowling”-dag.

Dit was ’n lieflike warm dag en om 09:00 het spanne begin lootjies uit ’n hoed trek, wat sou bepaal watter spanne teen mekaar gaan meeding. Die spanne het ’n paar oefenlopies gerol en om 10:00 het die spel amptelik begin.

Middagete, geborg deur Wimpy, is om 13:00 deur al 80 deelnemers genuttig, terwyl hulle saamgekuier en op mekaar se spel kommentaar gelewer het. Daar is rustig verder gespeel en die wenners is later aangekondig.

Die spanne en hulle ondersteuners is na afloop van die spel na die Piet Retief Buiteklub om ’n heerlike spitbraai, ’n musiekvertoning deur Freckled Elvis en die prysuitdeling te geniet. Na ’n dag van son, swoeg en ernstige kompetisie was die algehele wenners van die dag die Overwin Construction 2-span.

Die prysuitdeling is deur Fanie de Villiers behartig en al die spelers wat deelgeneem het, het ’n prys ontvang. Die Plaatwenners van die dag was “Mondi Iswepe”. Daar was ook ’n braaier wat deur HP Steel gebou is en twee krieketballe, geteken deur Fanie de Villiers en Allan Donald, wat opgeveil is.

Hierdie items was ’n groot aanwins tot die fondsinsameling. Sonder die nodige borge sal dae soos hierdie net nie moontlik wees nie. Baie dankie aan al die borge asook aan almal wat by hierdie dag hulle dienste aangebied het.

Dankie, ook aan die Rolbalklub en Gholfklub vir die gebruik van hulle fasiliteite. Op 2 November 2019, sal die jaarlikse Bosbou Gholfdag weer plaasvind. Die fondse wat by hierdie dag ingesamel gaan word sal dan saam met die fondse van die Bosbou Rolbaldag aan verskeie organisasies geskenk word. Ons sien uit!