Mkhondo Nooddienste

Die week van die 13de tot die 19de Mei 2019 was ’n besige een vir die Mkhondo Nooddienste.

Die volgende ongelukke is aan die Excelsior Nuus deurgegee. Vir meer inligting aangaande hierdie ongelukke, skakel gerus vir mnr. Anton Nortje, hoof van die Mkhondo Nooddienste by 079 872 8989. Op Donderdag, 16 Mei 2019, is een dame lig beseer toe sy in ’n poging om te draai, gefaal en in ’n boom vasgery het.

Die ongeluk het op die Ermelopad plaasgevind. Op Vrydag, 17 Mei 2019, op die Ermelopad, ongeveer 20:30, is drie persone lig beseer in ’n kop-aan-kop botsing. Een voertuig het probeer om ’n trok verby te gaan en trompop in ’n aankomende voertuig vasgery. Die verbygaande voertuig het ook die trok se middel-as getref. Op Saterdag, 18 Mei 2019, ongeveer 18:30, op die Ermelopad, is een persoon lig beseer toe ’n voertuig in die agterkant van ’n trok vasgery het.

Die bestuurder van die voertuig was op pad hospitaal toe met sy siek vrou. Hy het vermoedelik te vinnig gery en het toe teen die agterkant van die trok gebots. Met die botsing het die bestuurder van die voertuig remme aangeslaan. Die bakkie wat agter hom gery het, het in sy voertuig vasgery.

Op Saterdag is nog ’n ongeluk aangemeld toe ’n voertuig uitgeswenk het om ’n botsing te vermy en toe in ’n boom vasgery het. Hierdie ongeluk het ook op die Ermelopad gebeur en slegs een persoon is lig beseer. ’n Gru-ongeluk het op Sondag, 19 Mei plaasgevind in Krugerstraat.

Vier mense is dood nadat hulle agter op ’n bakkie gesit en die be-stuurder toe beheer verloor en teen ’n boom met die voer- tuig gebots het. Twee ander persone is ernstig beseer en nog drie is lig beseer.

Hierdie ongeluk word nog ondersoek en geen verdere inligting kan bekendgemaak word nie. Ons innige simpatie met familielede wat iemand aan die dood afgestaan het. Onthou – liewers laat as nooit!