Die belangrikheid van veilige oefening

Soos die jare aanstap, begin dit al hoe moeiliker raak om aktief te bly. Gereelde oefening is wel belangrik om te verseker dat jou liggaam nie verouder terwyl jy jonk van siel bly nie.

Die eerste wenk vir oefening in jou silwerjare is om na jou liggaam te luister en nie jouself te ooreis nie. Om meer te doen as wat jy in staat is om te doen stel jou in gevaar vir ernstige beserings. Ouer mense kan poreuse bene voorkom deur te oefen.

As jy gereeld oefen, pas die bene in jou liggaam aan om meer selle te vorm en sterker te word. Om krag te bou in jou bolyf, gaan dit nodig wees om op ’n stoel te sit en met die gewigte of oefentoerusting te werk.

Maak seker dat die gewigte nie swaarder is as wat jy kan hanteer nie en daag jouself dan uit om geleidelik meer repetisies (herhalings) te doen. Maak seker dat daar altyd iemand in die omtrek is wanneer jy besig is om met gewigte te oefen. Indien daar ’n besering sou plaasvind moet hulle die korrekte hulp kan verleen.

Kenners meen dat 10 minute se opwarming voor en tien minute se afkoel na oefening van groot belang is. Opwarming pomp nutriënt- en suurstofryke bloed na jou spiere na gelang van jou harttempo en asemhaling wat vinniger word.

“Jumping Jacks” is ’n goeie opwarmingsoefening maar as dit vir jou te veeleisend is, kan jy rustig op die plek stap en jou arms ook liggies swaai. Om na jou oefensessie behoorlik af te koel, help om spierkrampe en duiseligheid te voorkom terwyl jou harttempo en asemhaling geleidelik stadiger word.

Doeltreffende afkoeloefeninge sluit meestal strekoefeninge in om jou spiere te ontspan. Vir die silwerjeug, hou aan oefen maar maak seker dat jy dit op ’n veilige en verantwoordelike manier doen.