Huppel Kruppel ontbyt

Op Saterdag, 11 Mei, het die vroue van die VLU-Kaleidoskoop ’n heerlike Huppel Kruppel ontbyt voorgesit saam met die vrystelling van Ian Bouwer se Huppel Kruppel T-Hemp reeks.

Dit was Jacky Pretorius se blink idee om die twee gebeurtenisse te kombineer. Die oggend het om 08:00 begin met Ananja de Bruyn wat haar goed van haar taak gekwyt het as seremoniemeester. Sy het vir ds. Herman Stavast voorgestel en hy het ’n gepaste boodskap uit Johannes 9 voorgelees.

Rika Wolmarans het al die bedankings gedoen en volgens haar skep die Huppel Kruppel reeks die nodige hoop vir baie mense. Marijke de Waal het haarself oortref met die Huppel Kruppel ontbyt wat deur die talle gaste geniet is terwyl Michael Blignaut en Jenny van Zyl vir die gaste gesing het. ’n Skyfievertoning, deur Lourens Luyt, is vertoon.

Persone het opnames gemaak van hulle eie moeilike pad en dit aan Lourens gestuur vir die vertoning. Met die ontbyt is dié mense se lewe van hoop en oorwinning gevier: Anzell van Zyl – Verloor die gebruik van haar bene in ’n motorongeluk.

Botha Stoop – Moes sy arm amputeer na ’n motorongeluk. Magda Pretorius – Het op ’n jong ouderdom ’n beroerte gehad en het minimale gebruik van haar linkerarm. Henno Smit – Verlam in ’n fratsongeluk, maar leer nou stadig maar seker weer loop.

Gregory Pretorius – Moes sy been laat amputeer, maar niks hou hom terug nie, hy is beenaf op sy vrou en het al gebrugsprong. WJ Gerber – WJ is ’n oulike vyfjarige seuntjie met Outisme, hy vorder goed en met hulp en intense terapie kan hy al selfs tot 10 tel! Ian Bouwer, die man van die dag – Ian is in 2005 met die rare siekte, Serebellêre Ataksie gediagnoseer.

Die skyfievertoning was ’n groot inspirasie vir almal wat die dag bygewoon het en hier en daar moes iemand ’n sneesdoekie nadertrek. Ian Bouwer was volgende aan die beurt. Sy droom is om ’n motiveringspreker te word en hy het ’n rare talent om mense aan te raak met net een woord en sy sin vir humor.

Hy gesels oor sy T-Hemp reeks en het selfs ’n paar grappies gemaak, ’n meer positiewe mens as Ian kry mens selde. Barrie Bouwer was laaste aan die woord en bedank almal wat die dag moontlik gemaak het. Hy vertel dat Ian en almal wat ’n tekortkoming het net so normaal en onafhanklik wil wees soos die res van die mensdom.

Daarom het Ian sy reeks op die been gebring sodat hy ook onafhanklik kan wees. Hy het al groot sukses behaal en kon ook vir homself ’n nuwe rolstoel aanskaf. ’n Oggend tussen wonderlike mense soos dié maak opnuut jou oë oop vir hoe dankbaar jy kan wees vir die lewe wat jy lei, in ’n oogwink kan dit wat bekend is verdwyn en dan staar jy die duisternis reg in die oë.