Car Accidetns on the Pongolapad

Vanaf 15-24 Maart, het daar drie ongelukke op die Pongolapad en een op die Ermelopad plaasgevind.

Die onderstaande inligting is aan die Excelsior Nuus verskaf deur mnr. Anton Nortje, Hoof van die Mkhondo Nooddienste. Indien enigiemand meer inligting oor ’n betrokke ongeluk verlang, kontak hom gerus op 079 872 8989.

15 Maart: Omstreeks 11:50, het daar ’n ongeluk op die Ermelopad plaasgevind waarin geen beserings gerapporteer is nie. Volgens die ongeluksverslag, het die bestuurder van ’n rooi Fiat Uno ’n Hino vragmotor verbygesteek.

Op dieselfde tyd het die betrokke vragmotorbestuurder ook probeer om ’n voertuig voor hom verby te gaan en in die proses teen die agterkant van die Fiat Uno gebots. Op dieselfde dag, omstreeks 20:00, is ’n ongeluk op die Pongolapad gerapporteer. Noodpersoneel het met hul aankoms op die toneel een persoon behandel vir ligte beserings.

Die ongeluksverslag dui aan dat die bestuurder van ’n Fiat Uno onderweg was na Pongola toe hy ’n bees wat in die pad gestaan het, getref het. 16 Maart: Noodpersoneel is omstreeks 09:00 na ’n ongeluk tussen ’n Nissan 1400 en ’n vragmotor, op die Pongolapad, ontbied.

Na bewering, het die stilstaande vragmotor die ryvlak versper en die bestuurder van die Nissan 1400 het probeer om ’n ongeluk te vermy, maar het wel teen die agterkant van die vragmotor gebots. 21 Maart: Omstreeks 17:40, het daar ’n ongeluk in eThandukukhanya plaasgevind waarin twee persone vir geringe beserings behandel is.

Volgens die verslag, is daar bewerings dat die bestuurder van ’n wit Toyota Corolla die voertuig onregmatig geneem en probeer vlug het. Hy het in die proses ’n ongeluk veroorsaak en teen ’n wit Toyota bakkie gebots.

Die verdagte persoon het die voertuig op die ongelukstoneel agtergelaat en per voet verder gevlug. 24 Maart: Vier persone het ligte beserings opgedoen tydens ’n ongeluk omstreeks 11:30, op die Pongolapad.

Die bestuurder van ’n goue Toyota Etios het na bewering gesien hoe ’n aankomende motoris ’n ander voertuig verbysteek en hy het uitgeswenk om ’n kop-aan-kop botsing te vermy. In die proses het hy beheer verloor, van die pad afgery en sy voertuig gerol.

Mnr. Nortje doen ’n ernstige beroep op motoriste om te alle tye oplettend te wees. Wees op die uitkyk vir stilstaande voertuie wat die paaie versper asook ander motoriste wat voertuie verbysteek. Hou by die spoedgrens en maak seker dat jou voertuig padwaardig is.