Michael Blignaut - Hemelwater

Na die opspraakwekkende sukses wat Michael Blignaut met sy eerste enkelsnit, Naglig, behaal het, het hy op Maandag, 1 April, sy tweede enkelsnit genaamd Hemelwater, vrygestel.

Michael het aan die Excelsior Nuus genoem dat Hemelwater se musiekvideo op Woensdag, 13 Maart, in Johannesburg verfilm is. Die produksiespan van Fathom Media (Jay Loots en sy span) het die video geskiet en vervaardig (dieselfde maatskappy wat vir Naglig se musiekvideo verantwoordelik was).

Suna Robberts (van Image by Suna en bekend vir produksies soos Afrikaans is Groot, Classics is Groot en Die Kontrak), was in beheer van die stilering op die stel van Michael noem dat dit vir hom ’n groot verrassing was om saam met die bekende aktrise Mila Guy (tans te sien in Hotel) op die stel van Hemelwater te werk. Wat ’n formidabele mens. “Sy het letterlik in haar karakter ingestap en presies gedoen wat die vervaardigers van haar verwag het,” sê Michael.

Verder vertel Michael dat hy wens mense kon sien wat alles agter die kameras gebeur en presies hoe alles plaasvind. Hy sê al was hierdie slegs sy tweede musiekvideo opname, bly dit vir hom ’n baie interessante ervaring. Daar is natuurlik ook baie pret op die stel, wat die res van die land nie te siene sal kry nie.

Hemelwater eersdaags ‘n werklikheid

Heelwat cut, camera, action en kere waar ’n mens eenvoudig nie jou lag kan inhou nie, maak die ondervinding wat Michael op die stel van Hemelwater ervaar het, onvergeetlik. Die totale opname tyd van dié musiekvideo het bykans 7 ure geduur aangesien die vervaardigers verskeie kere materiaal geskiet het wat dan tydens redigering gebruik sal word.

Die span het ook buite verfilm en daar was elemente soos mense en voertuie wat tot stilstand gekom het om te sien wat verfilm word. In só ’n geval, word ’n mens geforseer om die toneel weer oor te skiet.

Hemelwater se musiekvideo is deur Maroela Media vrygestel en is tans beskikbaar op Youtube. Dit sal ook op SABC 2 en KykNET se musiekkanaal uitgesaai word. Michael is baie opgewonde oor die Ghoema-toekennings wat om die draai lê (Woensdag, 17 April). Hy sien baie daarna uit om saam met Starburst Promotions die glansgeleentheid by te woon.

“Ek sal ook van die geleentheid gebruik maak om met die groot en ervare ouens in die bedryf skouers te skuur vir leiding vorentoe,” voeg Michael by. Baie geluk Michael, jy maak ons Piet Retiewers baie trots! Sien gerus uit na wanneer Michael terug in die ateljee is vir die verfilming van treffer nommer drie!