Afriforum clean up operation

Die gehawende toestand van Piet Retief se vleilandgebiede en parke is geen geheim nie en daarom het bestuurslede van AfriForum Buurtwag besluit om self ’n poging aan te wend om die beboste areas te tem en weer orde te probeer skep.

Op Saterdag, 9 Maart, is die lang gras in die omgewing van Draadstraat weer kort gesny. Dit lyk stukke beter! Hierdie beboste gebiede bied die perfekte wegkruipplek vir kriminele wat skuiling in die lang gras soek en sodoende niksvermoedende inwoners se doen en late dophou.

As die vleigebiede netjies gehou word, sal dit ook moeiliker vir rommelstrooiers wees om hul vullis in die lang gras weg te gooi. Dankie aan hierdie betrokke partye wat ’n verskil maak in ons gemeenskap. Indien daar egter enigiemand is wat hul tuinwerkers of enige toerusting beskikbaar kan stel om te help met hierdie projek op ’n gereelde basis, kontak gerus vir mnr. Willem Grobler van AfriForum Piet Retief by 082 336 3303.

Afriforum clean up operation
‘n Boer maak ‘n plan

Op Dinsdag, 12 Maart, is die vleiland, wat deur Draad-, Tosen-, Retief- en Brandstraat loop, se lang gras weer mooi netjies kort gesny. Dit is nie al nie – daar is ook gesien dat ’n plaaslike boer met ’n trekker en ander implemente besig was om die oortollige gras in perfekte hooibale te rol!

Mnr. Mouton het aan die Excelsior Nuus genoem dat mnr. Vusi Khumalo, van die Mkhondo Munisipaliteit vir hom toestemming gegee het om die oortollige gras te verwyder en daarom het hy dit goedgedink om sy implemente te gebruik, bale te rol en te verwyder.

Wat ’n slim plan! Deur die “weggooigras” só te gebruik, word daar weer voorsiening gemaak vir voedsel aan vee! Baie dankie aan die betrokke persone wat verantwoordelik is vir hierdie blink plan!