Afriforum - Nasionale Patrolleringsoperasie

AfriForum Piet Retief Buurtwag se lede het op Vrydag, 8 Maart, deelgeneem aan vanjaar se eerste Nasionale Patrolleringsoperasie.

Die aksie het omstreeks 18:00 begin en teen 21:00 het almal by TyreMart Piet Retief bymekaargekom vir iets te ete. Om 22:00 het die lede verder gaan patrolleer tot 03:00. Van 03:30 tot 06:00, Saterdagoggend, 9 Maart, was van die lede steeds op diens.

AfriForum Buurtwag het ’n bywoning van 38 lede met 17 voertuie gehad terwyl die Verkeersafdeling ses beamptes met drie voertuie beskikbaar gestel het. Die plaaslike SAPD-beamptes het verskoning gemaak en gesê dat hul wel betrokke sal wees met die volgende sigbaarheidsoperasie. Plaaslike sekuriteitsmaatskappye het vier beamptes en drie voertuie beskikbaar gestel.

Met 48 vrywillige persone is daar bykans 1 440 km afgelê tydens AfriForum Piet Retief se deelname aan vanjaar se eerste Nasionale OPS Teen laat Vrydagaand, het mnr. Hillel Coetzer, Noord Streeksveiligheidshoof, die volgende statistieke aangaande die Nasionale OPS bekendgemaak: Mpumalanga en Limpopo – 1 854 km afgelê, met 162 lede en 80 voertuie.

AfriForum Buurtwag in Piet Retief het ’n totaal van 48 vrywilligers aan diens gehad en met 23 voertuie is daar bykans 1 440 km afgelê. Knap gedaan! Die volgende insidente is aan die Excelsior Nuus bekendgemaak: ’n Huis in Von Brandisstraat het amper gebrand, maar weens vinnige reaksie deur lede en die Brandweerhoof, mnr. Anton Nortje, is die situasie spoedig uitgesorteer.

Ses verdagte persone is in woongebiede en velde gerapporteer en een verdagte persoon is in Maritzstraat opgemerk. ’n Prostituut en haar kliënt is in ’n oop erf op die hoek van Kotze- en Draadstraat verjaag toe patrolleringsvoertuie ligte op hulle geskyn het. ’n Verdagte persoon is naby Bossies Inn in ’n erf aangetref met ’n leer. Ten tyde van publikasie was die Verkeersafdeling se welslae nog nie bekendgemaak nie.

AfriForum Piet Retief bedank graag elkeen wat vrywilliglik en getrou hul tyd opgeoffer en saamgewerk het om misdaad in Piet Retief hok te slaan. Dankie aan die verskeie donateurs wat skenkings gemaak het. Dankie ook aan die dames wat gehelp het met die voorbereiding van die ete.

Saam kan daar beslis ’n daadwerklike verskil in Piet Retief gemaak word. As jy bereidwillig is om te help en deel te vorm van die oplossing teen misdaad in ons gemeenskap, móét misdaad drasties afneem. Om betrokke te raak by AfriForum Buurtwag, of vir meer inligting, kontak gerus vir mnr. Gerhard Böhmer by 083 727 4766.