Bible Walk - R100 vir Bybels

Op ’n sonnige Saterdagoggend, 9 Maart, het opgewonde inwoners van Piet Retief aan vanjaar se Bible Walk, deelgeneem.

Met Doudruppel, die AGS Fontana Gemeente se Fountain Kids “gelukbringer”, op die agtergrond wat mense aangespoor het om nog ’n bietjie vinniger te stap, was dié fondsinsameling weereens ’n ontwyfelbare sukses.

Het jy geweet dit kos R95-00 om net een Bybel aan te koop? Hierdie betrokke Bible Walk is gehou om fondse in te samel sodat meer Bybels versprei kan word. Deelnemers moes R100-00 per kilometer betaal, of hul kon slegs ’n donasie maak.

Pastoor Riaan de Bruyn en sy vrou, Maryke, gaan vanaf 3 April 2019, weer deelneem aan die Word Riders, in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika waar hulle vanjaar per motorfiets deur die Oos-Kaap gaan toer. Hulle beoog om plekke soos Jeffreysbaai, Port Elizabeth en selfs Graaff-Reinet te besoek.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beoog om vanjaar 6 000 Bybels aan graad 7-leerders te skenk en Riaan en Maryke het vir hulself ’n doelwit gestel om ten minste 1 500 Bybels vir hierdie doeleinde te skenk en daarom is die Bible Walk gereël om genoegsame fondse in te samel hiervoor.

Pastoor Bennie Franke, van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het ’n draai in Piet Retief kom maak en ook sy stapskoene vir dié geleentheid aangetrek. Hy het ook ’n paar pryse vir die dag oorhandig. Die Bible Walk was beslis vir oud en jonk!

Die jongste stapper was Emma Francis, (2 jaar oud), wat 3 km saam met haar ma, Maryke, voltooi het. Al het sy so nou en dan verkies om in haar stootwaentjie te ry – tel dit seker ook né? Livy Meyer en Celesti Rautenbach, beide laerskoolleerlinge, was die wenners van die 3 km en die oudste deelnemer was 70- jaar oud (Tom Mc- Seveney).

Wat ’n onvergeetlike samesyn! Baie dankie aan elkeen wat ’n bydrae gelewer het en diegene wat steeds donasies vir hierdie goeie saak wil maak, is welkom om vir Pastoor Riaan de Bruyn by 082 853 0389 te kontak.