Hoë stygings in damvlakke
Die Waterwesedam lyk lieflik en is voller as 'n paar maande gelede

Dit blyk dat al ontvang die dorp goeie reënbuie, bly die damvlakke steeds onveranderd.

As dit kom by goeie reënbuie vir Piet Retief, is daar beslis geen tekort tot dusvêr in vanjaar se reënvalseisoen nie en kan ’n mens met ’n dankbare hart sê; dankie Here vir elke druppel van genade!

Die MFPA (Mkhondo Fire Prevention Association) het aan die Excelsior Nuus ‘n verslag gelewer wat aandui dat Piet Retief en omliggende areas in September 2018 ’n gemiddeld van 43,8 mm reën ontvang het. In Oktober styg die gemiddeld aansienlik en is daar 59 mm reën vir die hele streek aangeteken.

Binne die eerste twee weke van November, staan die reënvalsyfer reeds op ’n goeie 29 mm, met nog drie weke vir dié maand wat voorlê. Die volgende statistieke is deur die Department van Water en Sanitasie uitgereik op Maandag, 29 Oktober: Heyshopedam daal van 84,5% na 84% terwyl Jerichodam effens styg van 70,4% na 70,5%.

Morgenstonddam daal met 1,7% van 72,1% na 70,4% terwyl Westoedam ook effens daal van 49,9% na 49,5%. Hiérdie bogenoemde syfers behoort teen die volgende bekendmaking van statistieke deur die department, ’n heel ander prentjie te wees aangesien goeie, aanhoudende reënbuie gedurende die afgelope tyd ’n verskil sal maak.

Reën = slaggate?

Wonder jy ook of daar nog één straat in Piet Retief is wat nie ’n enkele slaggat het nie? Al ooit gesien hoe mense agter mekaar aanry en as die voorste voertuig na regs/links swenk, volg die agterste een dieselfde roete?

Dit is nie om verspot te bestuur nie, maar om slaggate te vermy. Piet Retiewers weet ook teen hierdie tyd dat wanneer daar reën is, die opgevulde slaggate oopspoel en die gate nog ’n bietjie dieper is as voorheen.

Munisipale werkers is op Dinsdag, 6 November in Mall@ Mfula se area gesien waar hulle besig was om weer slaggate op te vul. Hopelik word daar nie van die res van die dorp se verlate strate vergeet nie en word die “damme” ook behoorlik reggemaak.